Wrangler kry diesel-inspuiting
2011-11-17 15:11
Johannesburg – Dit het ’n rukkie geduur, maar nou kan jy ’n Jeep Wrangler ook met ’n turbodiesel-enjin aanskaf.
Dis goeie nuus vir diegene wat graag ’n Jeep wil hê (die model is nogal gewild vanweë sy eiesoortige hardebaard-voorkoms), maar nog altyd afgesit is deur sy dorstige petrolenjin van 3,8 liter.
Die drie-punt-agt is weliswaar veel suiniger én kragtiger as die ou vierliter wat Jeep destyds in sy vorige geslag Wrangler gebruik het, maar steeds is sy amperse 12,0 liter verbruik (op die ooppad, nè) deksels hoog vir so ’n klein voertuig.
Boonop het groter Jeeps soos die Cherokee selwers met die vervaardiger se bekende 2,8 liter-turbodiesel rondgedraf. Daar was dus wel ’n oliebrander beskikbaar.
Nou het Jeep besluit om tog die sprong te waag en einste 2,8 liter-turbodiesel in sy plaaslike Wrangler in te span. Die bekendstelling van die turbodiesel val ook saam met die opkikkering van die hele modelreeks noudat ons so halfpad deur die Wrangler se rakleeftyd is.
’n Paar goed val dadelik van die turbodiesel op. Eerstens is die enjin ’n aangepaste weergawe van wat jy elders in die Jeep-stal vind.
In die Cherokee lewer hy 130 kW en 460 Nm wringkrag, terwyl hy in die Wrangler ’n gesonde 147 kW en 460 Nm wringkrag wiele toe pomp.
Die volgende interessantheid is dat die diesel-Wrangler net met ’n vyfgang- outomatiese ratkas te kry is. Die petrolweergawes is óf met ’n sesgang-handrat- óf ’n viergang-outokas te vind.
Dis enersyds jammer dat Jeep nie die sesgang-handrat ook met die turbodiesel kombineer nie.
Dalk is daar duursaamheidprobleme met die diesel se ongelooflike hoeveelheid krag – die petrolenjin lewer maar 315 Nm, teenoor die diesel se 460 Nm.
Maar bygesê, ’n mens moet seker dankbaar wees dat daar wel ’n flinker, buigsamer vyfgang-outomaties in die diesel is en nie daardie lompe ouskool-viergang soos jy in die petrolweergawes aantref nie.
Die laaste ding wat ons opval, is dat Jeep besluit het om die turbodiesel die topmodel in sy reeks te maak. Waarom? Net omdat hy die kragtigste is?
Die Wrangler is in ’n kort tweedeur-bakwerk en ’n langer vierdeur-bakwerk (die Unlimited, soos Jeep hom noem) te kry en albei is nou met hierdie nuwe turbodiesel te koop.
Wat die opkikkering van die Wranglers betref, het Jeep die dakkie (wat los is en afgehaal kan word) van dieselfde kleur as die bakwerk s’n gemaak.
Binnelangs het die stuurwiel nou kontroles gekry waarmee jy die radio en spoedbeheer kan verstel, terwyl die algemene uitleg van die instrumentpaneel meer ergonomies, nader aan die bestuurder en van ’n beter materiaal gemaak is, sê Jeep.
Nuwe standaarditems sluit ook in klimaatbeheer en ’n 12 V-sok, terwyl die sig na agter ’n bietjie verbeter is met die aanbring van ’n groter agterruit.
Al die modelle se agtersitplek-rugleunings kan platvou om die laairuimte groter te maak, maar Jeep sê as jy die Sahara-pakket kies, kry jy boonop ’n dakkie wat soos ’n sondak kan ooprol, of in drie dele uitmekaar gehaal kan word sodat jy wind-in-die-hare kan rondrits.
Speelgoed soos spoedbeheer, ’n vashou-funksie as jy teen ’n bult moet wegtrek, ’n banddrukmonitor en vastrapbeheer is als standaard in die Wrangler-reeks.
Pryse:
* Wrangler 2.8 CRD Sahara – R394 990;
* Wrangler Unlimited 2.8 CRD Sahara – R419 990