Los naam; hou lyne, tegnologie
2012-01-26 11:03
In egte Toyota-tradisie het die mooie NS4-konsepmodel die simpelste van name gekry. Immers, dis net ’n subkomitee van ’n Chinese politburo wat so ’n mooi motor tot “NS4” kan reduseer.
Gelukkig is die konsepte wat die NS4 vergestalt veel opwindender as sy flou naam.
Toyota se ingenieurs het ’n rits nuwe gedagterigtings oor toekomstige motorry met dié knaap beproef. Dalk word net ’n paar daarvan eendag werklikheid, maar intussen het die witjasse darem ’n toon in die tegnologie-water gesteek.
Wat sy voorkoms betref, is die NS4 op die Japanse groep se volgende hibriedvoertuig-platform geskoei (wat teen 2015 gereed moet wees), vandaar die langer asafstand en groter bakwerk as sy bestaande Prius.
Die profiel is baie modern; met ’n geronde dak en ’n luikrug-agtige agterkant, terwyl die neus weer baie sportief vertoon met sy diep luginlate.
Die A-pilaar is ekstradun vir beter sig vir die bestuurder, maar dis te betwyfel of ’n produksiemodel met sulke dun pilare sal kan wegkom.
Die NS4 is ’n sogenaamde inprop-hibriedvoertuig, wat beteken dat hy oor ’n elektriese enjin sowel as ’n petrolkragbron beskik. Die battery wat die elektriese motors aandryf, kan oornag by ’n huis se muursok herlaai word.
Ongelukkig is Toyota nog snoep oor presies wat sy kragsyfers behels.
Die groep sê wel dat die volgende hibriedkragbronne uit ligter onderdele en kleiner komponente sal bestaan en ook ’n langer reikafstand en vinniger herlaaityd sal hê.
In die binneruim het die NS4 ’n groot raakskerm wat met dieselfde tegnologie as ’n tabletrekenaar spog. Dié stelsel is ook met die motor se rits veiligheidstelsels gekoppel.
Dit sluit sy baanverlaat-gonser, sy blindekol-gonser, ’n selfrem-funksie as jy te na aan ’n voertuig voor jou is en voetgangerherkenning-tegnologie in.
Die skerm vertoon dus inligting (soos jou blindekol) óf in syferformaat (jou radiostasie, byvoorbeeld) óf as ’n kamerabeeld.
Van kameras gepraat, die NS4 het nie kantspieëls nie, maar kameras wat ’n groot beeld op jou sentrale skerm vertoon. Daar is ook ’n parkeerkamera agter.
Die veiligheidstelsels (soos die gonsers, voetganger-herkenning en volgbeheer-funksie) werk onder meer met infrarooistrale, radar of ’n radiogolf-kamera.
Nog ’n nuttigheid is dat die motor se “brein” ook die bestuurder se gewoontes kan “aanleer” en later jou tipiese gedrag voorspel. Dit help byvoorbeeld wanneer jy graag te vinnig te na aan die voertuig voor jou ry (wat jou remtyd altyd nadelig beïnvloed).
Die stelsel kan dus self vroegtydig ingryp as dit lyk of jy ’n ongeluk gaan maak.
Selfs in die voorruit is daar ’n paar nuttige stukkies tegnologie in gebruik geneem. Die voorruit is met ’n sogenaamde hidrofobiese lagie behandel wat druppelvorming keer. Dit verbeter dus jou sig in ’n reënbui.
Die venster het ook ’n miswerende lagie wat wasem help voorkom; ’n binnelaag wat UV-strale absorbeer; en ’n sonwerende lagie wat die binnetemperatuur draagliker maak.

Kameras, radar en gonsers – die NS4 sal selfs James Bond se Q nagmerries gee.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld