Hyundai-'dubbelkajuit' het styl
2012-01-26 12:02
Wel, die Koreane draai nie doekies om nie en ’n tradisionele dubbelkajuit gaan nie gou uit daardie geweste, of eerder geooste, kom nie.
Die H1 Multicab-bussie, wat pas bekend gestel is, doen volgens Hyundai presies wat die meeste dubbelkajuite doen en dalk met ’n raps meer finesse as die meeste bakkies met ’n kappie. Moet net nie 4x4 en sluitgrendels vir veldry verwag nie.
Elke bussie het darem sy trots, of sal ’n mens sê eerder sy beperkings?
Die Multicab-idee is nie nuut in Suid-Afrika en die mark nie. Die idee om ’n bestaande vragdraer en menskarweier te kombineer word ook deur Mercedes-Benz met sy Vito Crew Cab en Volkswagen met sy T5 Crew Bus gedoen.
Die resep is eintlik eenvoudig: Meng die paneelwa en die passasiersbussie in gelyke hoeveelhede en siedaar!
En daarom die skimpe dat die 4x2-dubbelkajuitbakkiekopers so stewig in Hyundai se visier is. Die Multicab het twee rye sitplekke en baie meer beenruimte as enige dubbelkajuit en ’n troefkaart is die sesde sitplek tussen die voorste passasier en die bestuurder. Nie van die gemaklikste vir dié sesde insittende nie, maar vir die veilige vervoer van personeel en toerusting is dit ideaal.
Die laairuim agter het ’n vragdravermoë wat beter as die meeste bakkies s’n is en volumegewys klop hy ’n hele paar, afhangende van hoe groot die kappie op jou bakkie is.
Die nadeel is dat daar nie ’n kappie is wat verwyder kan word sou jy nog ruimte benodig nie.
En as jy dink die Multicab is dalk ’n ou softie as dit by werk kom, dink weer. Eerstens trek die wa (soos die passasiersbussie en paneelwa) met sy agterwiele en sy vragdravermoë is sowat 1 t. Volumegewys kan hy 2 500 liter sluk.
Soos in die paneelwa se geval is die twee oopswaaideure agter behou vir maklike in- en uitlaai en die twee skuifdeure weerskante is net vir die agterpassasiers.
Die kajuit word deur ’n staalbalk en ruit van die laairuim geskei. Die voordeel daarvan is dit laat die H1 nie so ooglopend na ’n vragdraer lyk nie.
Daarby is die bestuurder se uitsig sommer stukke beter as wat die geval met die mededingers is.
Boonop kan jy die ruite deur staalpanele laat vervang sou jy dit so verkies.Andersins is daar die gemak en gerief waaraan ’n mens teen dié tyd al in die H1 gewoond geraak het met dinge soos ABS-remme, dubbele lugsakke, kragstuur, ’n lugversorger en selfs ’n klankstelsel met ’n USB- en ’n musiekspeler-sok wat standaarditems is. Ongelukkig moet die bestuurder van ’n Multicab sonder elektriese kantspieëls klaarkom wat nogal ’n nuttige gerief is as jy eers daaraan gewoond is. Daar is darem elektriese ruite.
Daar sal net twee modelle wees: een die goedkoper 2,4 liter-petrolmodel met ’n handratkas met vyf gange; die ander ’n 2,5 liter-turbodiesel met ’n outomatiese ratkas met vyf gange. Omdat Hyundai nie gedetailleerde verkoopsyfers bekend maak nie, is dit nie maklik om vas te stel hoe gewild die H1-bussiereeks is nie.
Dit lyk of Hyundai maandeliks sowat 200 H1-passasiersbussies verkoop en 50 van die groot H1-paneelwaens. Dit maak van Hyundai die leier in dié segmente.
Die mededingers se Crew Cab en Crewbus/Crew Bus verkoop maar in yl getalle; maandeliks ongeveer 50 en Hyundai reken dat hy hier ook vir VW en Mercedes-Benz gaan wys hoe dit gedoen word.
SPESIFIKASIES
H1 Multicab 2.5 (diesel) H1 Multicab 2.4 (petrol)
Prys: R339 900 R279 900
Enjin: 2,5 liter 2,4 liter
Krag: 125 kW 126 kW
Wring: 392 Nm 227 Nm
Ratte: Vyf, outo Vyf, hand
ESP: Ja Nee
0-100 km/h: 14,9 sek. 17,9 sek.
Verbruik: 9,7 liter/100 km 10,2 liter/100 km

Van buite lyk die Multicab net soos die gewone H1-passasiersbussie. Die skuifdeure weerskante is standaard.

Die Multicab se laairuim, wat sommer ’n hele klompie goed kan sluk.

Die instrumentasie is nou reeds ’n bekende gesig en volg die resep van sowel die H1-passasiersbussie as die paneelwa.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld