Ford se mooiste wiele in lang tyd
2012-02-02 13:55
Ford sê dis sy nuwe vlagskip-model; ons reken dis sommer net sy mooiste stel wiele in ’n lang tyd.
Die nuwe Kuga het pas sy buiging in Suid-Afrika gemaak en hoewel daar ’n hele paar fronse oor Ford se strategie met, is een ding seker: Dis een van die opwindendste sportnutse op die mark.
Die Kuga is ’n “sagte” 4x4, ’n buks wat op die teerpad meeding met die Hyundai ix35, die Kia Sportage, Honda se CR-V en Volkswagen se Tiguan, om maar ’n paar te noem.
Hoewel hy oor permanente vierwielaandrywing beskik, het hy ’n beperkte grondvryhoogte en geen lae-strekratkas nie. Hy’s eerder die jappie se sypaadjie-wiele as die Camel-man se wegbreekwiele Botswana toe.
Die Kuga is ’n voorbeeld van Ford se “kinetiese energie”-ontwerpstyl wat nog in Fords van ’n paar jaar gelede gestalte gevind het. Dink maar aan die Focus en die Fiesta.
By die heupe is daar skerp plooilyne wat voor en agter eindig in bultende lighulsels. Die hele buks lyk sportief en dinamies; met straks net die ix35 en Sportage wat visueel gesproke in sy kraal pas.
Die frons wat ons het, is dat die Kuga al vier jaar gelede in Europa bekend gestel is. ’n Nuwe Kuga kom volgende jaar oorsee aan en dit laat ’n mens dadelik wonder waarom Ford Suid-Afrika hom nou eers hierheen bring. Noudat hy so op ou bene staan.
Ford sê amptelik die mark is nou eers gereed vir die Kug, maar ons reken dis omdat Ford Europa die ou Kuga nou teen ’n billiker prys (noudat hy in sy laaste fase is) aan kleiner markte uitdeel.
Hoewel jy oorsee ’n hele reeks Kugas kry, sal net twee modelle plaaslik te koop wees. Albei is eintlik topmodelle; met net hier en daar ’n klemverskil wat afwerking betref.
Albei kry byvoorbeeld die 2,5 liter-vyfsilinder-enjin (met ’n turbo) wat jy ook in die Focus ST vind.
Daar is geen turbo-diesel of normaal geaspireerde enjins nie.
Albei modelle kry ook net ’n vyfgang- outomatiese ratkas; daar is geen handratkaste te kies nie.
Dit is dus net ’n paar afwerkingsverskille wat die goedkoper Trend-model van die duurder Titanium laat verskil.
Die 2,5 liter-turbo-enjin is heel lewendig, maar die tyd het hom al begin inhaal – ondanks sy groot verplasing kry jy net 147 kW.
Vergelyk dit met Peugeot se 1,6 liter- turbo wat ook 147 kW lewer en Volkswagen se 2,0-liter wat 155 kW uitpomp. Daarby is die outomatiese ratkas ook nie heeltemal so Star Trek-modern nie. Die Tiguan is strykdeur met óf ’n sesgang-handrat óf ’n sewegang-, DSG-soort outomatiese ’kas te kies.
Dis ’n baie gevorderde ratkas daai.
Wat die Kuga as ’n pakket betref maak hy sommer baie sin. Die enjin se 320 Nm is van die meeste in sy klas en hy voel sommer baie lewendig op die pad.
Die ratkas het wel ’n tikratfunksie waarmee jy hom met die hand kan bearbei.
Die dryfstelsel is permanent in vierwiel-modus, maar die blikbrein kan die krag meer na die agteras stuur as hy voel dit sal die greep verbeter. Die blikbrein kan ook ’n wiel wat tol met die ABS-stelsel vasknyp sodat die krag na die oorkantste wiel geskuif word waar beter vastrap is.
Daarby het die Kuga ’n stabiliteitstelsel met vastrapbeheer wat standaard in die Titanium-model is.
Inderdaad is sy praktiese nut straks een van die sterkste kenmerke van die Kuga. Daar is parkeersensors agter, ses lugsakke, versteekte bêreplekke in die laai- ruim en onder die sitplekke en ’n dakrak.
Die panoramiese sondak is dalk ’n luukse, maar ek hou van die luikdeur agter wat in twee dele kan oopslaan – net die boonste venstergedeelte of die hele deur.
Die Kuga ry lekker sag en daar is min band- en windgeraas wat na die binneruim deursypel. Die stuur voel lekker lig in die hand, maar dis veral sy vastrap deur die draaie wat hom heerlik laat ry. Hy voel viervoet geplant deur ’n draai, amper soos die vorige model Focus, wat ’n puik hanteerder was.
Die twee Kuga-modelle is glad nie goedkoop nie. Daarby is die reekskeuse maar baie beperk.
Maar as ’n vars gesig op die pad en met ’n gawe turbo-enjin onder die neus is hy straks een van die voorste keuses sagte nutsvoertuie nou op die mark.
Pryse:
Ford Kuga 2.5 Turbo Trend – R375 000;
Ford Kuga 2.5 Turbo Titanium – R395 000
– Volg Nuus24 op Twitter.