BMW se X6 allesbehalwe 'n nis-wa
2012-02-09 11:32
Selfs BMW se ringkoppe het nie gedink dat ’n voertuig wat so tussen die boom en die bas is, só ’n groot verkoopssukses sou word nie.
Die BMW X6, ’n sogenaamde sportaktiwiteitsvoertuig, sou maar ’n nisvoertuig wees. Wel, sowat 150 0000 eenhede later, is dit alles behalwe ’n nis-wa. Dié goeie verkope het die stoutste verwagtings oortref van ’n voertuig wat die beste van twee wêrelde probeer bied – sportsedan en sportnuts.
Nou is die X6 opgeknap en die nuweling sal teen die derde kwartaal van die jaar in Suid-Afrika wees.
Van voor is daar ’n nuwe sierrooster, buffer en lighulse wat almal so ontwerp is om die X6 ’n platter, breër en ’n forser voorkoms te gee.
Boonop is daar nou aktiewe LED-hoofligte beskikbaar, die eerste keer dat die tipe ligte in die klas voertuig te kry is.
Ook van agter lyk die X6 effe anders met nuwe lighulse wat self LED-ligte bevat wat ontwerp is om die voertuig meer sportief te laat lyk.
Daar is nuwe wiele, nuwe verfbaadjies en binne ’n hele klompie nuwe kleurskemas en afwerkingsvlakke. Dan praat osn nie eers van die beter vlak van standaardtoerusting en opsionele ekstras wat voortaan beskikbaar is nie. Dink aan nuttige toerusting soos kameras voor, agter en aan die kante, internetverbindings en nog talle ander tegnologieë om die aan elke denkbare behoefte te voldoen.
Onder die enjinkap is een van die X6 se grootste trekpleisters. Die groot nuus is die koms van die wêreld se kragtigste sessilinder-dieselenjin wat van drie turbo-aanjaers gebruik sal maak. BMW span gewoonlik twee in.
Die X6 M50d se dieseloondjie sal ’n allemintige 280 kW bied met ’n wringkragsyfer van 740 Nm. Die oliebrander sal in net 5.3 sekondes ’n 100 km/h kan haal en dus ’n hele klomp blitsbukse onder die stof loop. Boonop seg BMW kan die kragvraat se gemiddelde dieselverbruik so laag as 7.7 liter/100 km wees wat werklik eersteklas is.
Daar sal twee ander dieselmodelle, die X6 xDrive 40d en X6 xDrive 30d te kry wees wat 225 kW en 180 kW onderskeidelik bied en bekendes in Suid-Afrika is.
Aan die petrolkant sal die vlagdraer steeds die MX6 wees met sy turbo-aangejaagde V8 wat 408 kW en 680 Nm se wringkrag bied. Die ander petrolmodelle is ’n makker weergawe van die V8 enjin wat in die X6 xDrive50i ’n steeds billike 300 kW bied en die X6 xDrive 335i wat 225 kW uitskop.
Al die modelle gebruik natuurlik BMW se xDrive-stelsel wat van vierwielaandrywing gebruik maak.
Al die modelle in die X6-reeks het outomatiese ratkaste met agt gange buitens die twee M-modelle waarvan die die outo-kaste ses gange het.
Die beste van albei wêrelde? Waarom nie!
– Volg Nuus24 op Twitter.