Volvo-motors gee om vir diere
2011-06-15 11:27
Johannesburg – Volvo gaan hul veiligheidmaatreëls aanpas met nuwe tegnologie wat die remme van motors outomaties sal aktiveer om ongelukke met diere te voorkom.
Dié nuwe stelsel sal binne ‘n paar jaar op die mark beskikbaar wees, het Volvo gesê.
Die projek om botsings met wilde diere te voorkom vorm deel van Volvo se visie vir 2020 – dat niemand in ‘n nuwe Volvo ernstige beserings moet opdoen nie.
Die nuwe sisteem is gebaseer op tegnologie van sy voetganger-opsporingstelsel wat in 2010 bekendgestel is om ongelukke met voetgangers te vermy.
Dit is belangrik dat die sisteem ook in die donker moet kan funksioneer omdat die meeste ongelukke met wilde diere in die nag en in wintermaande plaasvind, het Andreas Eidehall, tegniese kenner van veiligheidsisteme by Volvo, gesê.
Kameras sal die pad monitor en indien ‘n dier binne trefafstand van ‘n motor is sal die bestuurder in kennis gestel word. Indien die bestuurder nie reageer nie sal die remme outomaties geaktiveer word.
- iafrica.
- Volg Nuus24 op Twitter.