Volkswagen-baas sterf in motorongeluk
2010-07-19 11:39
Shanghai - Die uitvoerende bestuurder van een van Volkswagen se gesamentlike ondernemings in China is in die noordwes van die land in 'n motorongeluk dood, het die Duitse motorvervaardiger en die staatsmedia Maandag gesê.
Liu Jian, die uitvoerende bestuurder van Shanghai Volkswagen Automotive Co, en drie ander mense is in Saterdag se ongeluk oorlede tydens 'n besoek aan die Gansu-provinsie, het die nuusagentskap Xinhua gesê.
'n Woordvoerder van die maatskappy het Liu se dood bevestig nadat hulle deur AFP gekontak is. 'n Verklaring sal later glo uitgereik word.
Volkswagen, Europa se grootste motorvervaardiger, en China se grootse motorvervaardiger SAIC besit elkeen 'n 50% aandeel in Shanghai Volkswagen.
Die Duitse motorvervaardiger het ook 'n aparte gesamentlike onderneming met FAW Group, wat in die noord-oostelike stad van Changchun gebaseer is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP