VW se 1-tonner gou hier
2009-12-14 08:35
’n Taai bekgeveg, ’skuus bakkiegeveg, wag volgende jaar op Suid-Afrikaners wanneer Volkswagen sy eerste volwaardige 1 ton-bakkie plaaslik bekend stel.
Die Amarok, soos die nuwe Volksie-bakkie heet, is in vele opsigte die spreekwoordelike kat in die duiwehok loslaat.
En net vir die rekord:
As ons hier van eentonners praat, sluit dit nie die Corsa Utility, Bantam en ander amperse eentonners in nie.
In die kryt se hoeke sal jy die Isuzu, Hilux, NP300, Navara, BT-50, Ranger en Triton aantref.
En as jy mooi kyk ook ’n klompie uit China en Indië – maar niks uit Europa nie, altans tot nou toe nie.
In die derde kwartaal van 2010 gaan die VW-bakkie, wat in Duitsland ontwerp is en in Argentinië gebou word, sy opwagting in Suid-Afrika maak.
Volkswagen sal die bekende resep of roete volg deur dubbel- en enkelkajuitweergawes in 4x2- en 4x4-gewaad (met laestrekratkas) bekend te stel.
Eerste aan die beurt sal die dubbelkajuite wees wat veral vir die leefstylsegment bedoel is met die werkesel-enkelkajuit wat vroeg in 2011 hierheen kom.
En moenie die omvang van die eenton-bakkiesegment onderskat nie.
Wêreldwyd is dit sowat 2 miljoen eenhede per jaar werd en in Suid-Afrika self word elke maand tussen 5 000 en 6 000 eentonbakkies verkoop.
Volkswagen glo sy Amarok is net die regte wa om die Oosterse oorheersing se rug te breek en sal volgens VW kan doen wat enige van sy gevestigde mededingers doen.
Die Amarok is 5,25 m lank en sal volgens Volkswagen met die grootste kajuit en breedste vragruim (1 222 mm tussen die wielboë) spog wat selfs ’n Europese laaibord (pallet)dwars sal kan huisves.
Verder is die Amarok duidelik deel van die nuwe moderne Volkswagen-familie wat stilering betref.
Belangrike nuus is dat twee dieselenjins aanvanklik beskikbaar sal wees.
Die eerste is ’n 120 kW-kragbron van 2 liter wat 400 Nm se wringkrag by ’n lae 1 500 rpm opwek.
Die ander enjin sal 90 kW bied met 340 Nm se wringkrag teen ongeveer 2 000 rpm.
Albei die TDI-enjins sal aan ’n handratkas met ses gange gekoppel wees.
Daar is in dié stadium geen sprake van petrolenjin vir die nuwe bakkiereeks nie.
Volkswagen maak daarop aanspraak dat die 90 kW-enjin so min as 7,6 liter/100 km gebruik met ’n uitlaatgassyfer van 199 g/km.
Die 120 kW-enjin gebruik glo 7,8 liter/100 km met ’n syfer van 206 g/km CO2.
Volkswagen maak ook aanspraak daarop dat dit die eerste bakkie in die klas is wat ’n koolstofsyfer van minder 200 g/km het.
Sluitgrendels vir die agterste ewenaar sal op al die bakkies beskikbaar wees.
Daar sal ook twee afwerkingsvlakke wees – Trendline wat reeds omvattend is en die Highline wat nog ekstras soos verchroomde kantspieëls, klimaatbeheer, 17 duim-wiele en leerafwerking insluit.
Boonop sal ’n omvattende reeks bybehore waarvoor die bakkie-manne so lief is dadelik beskikbaar wees.
Wat veiligheid betref, is daar vier lugsakke en selfs ’n opsionele elektroniese stabiliteitsprogram (ESP). Die modelle wat nie ESP het nie, sal ’n skakelaar hê waarmee die ABS-stelsel van die remme afgesit kan word wanneer daar in 4x4-laestrekmodus gery word.
Daar is afdraande-beheer, asook wegtrekbeheer.
Die Amarok sal vroeg in 2010 eers in Suid-Amerika bekend gestel word, daarna in Suid-Afrika en dan in Australië.