VW glimlag breed ná 1ste ronde in nasionale tydren
2010-03-18 12:25
Johannesburg – Daar was breë glimlagte onder die Volkswagen-manne ná die eerste ronde van die nasionale tydrenkampioenskap wat onlangs in KwaZulu-Natal beslis is.
Dit wil voorkom of VW en bepaald Hergen Fekken vanjaar wil voortgaan waar hulle verlede jaar opgehou het.
Fekken (VW Polo) en Pierre Arries, sy navigator, het die eerste plek op die podium ingeneem, met sy spanmaat en self ’n voormalige tydrenkampioen, Enzo Kuun, en Guy Hodgson in ’n soortgelyke motor in die tweede plek.
Vir Toyota was daar darem ook ’n ligpuntjie met Mark Cronje en Robert Paisley in hul Auris wat die derde plek op die podium ingeneem het en ook derde in die S2000-klas was.
Die Zimbabwiër Conrad Rautenbach en Peter March was vierde in hul Subaru Impreza en eerste in die klas N4.
Van die groot Ford-aanslag het nie veel gekom nie toe die nuwe Ford Fiesta van Charl Wilken en Greg Godrich uitgebrand het.
’n Lekkende remvloeistofpyp was blykbaar die sondaar.
Die tydren is ook gekenmerk deur groot ongelukke.
Schalk Burger en Armand du Toit se Toyota RunX het teen ’n heuwel afgerol en onderstebo in ’n rivier beland.
Omstanders het gou ingespring en gehelp om die voertuig op sy wiele en die tydrenjaers se koppe bo die water te kry.
Kort daarna het dieselfde met Mohammed Moosa en Grant Martin, ook in ’n RunX, gebeur en hul voertuig het skaars 20m van Burger-hulle s’n af tot stilstand gekom.
Chris de Wit en Riaan Erasmus het klas A7 in hul Toyota RunX gewen, Tjaart Conradie en Tiaan Rabe (Toyota Auris) was eerste in klas A6 en klas A5 is deur Andre Cleenwerck en Kesevan Naidoo in ’n VW Citi Golf gewen.
Net 21 van die 41 deelnemers het die tydren voltooi.
Die volgende tydren is die Toyota-handelaars in Caledon op 26 en 27 Maart.
– Beeld