Toyota-werkers eis salarisverhoging
2012-10-03 15:00
Durban – Werkers by Toyota Prospecton in Durban het Dinsdag buite hul kantore betoog oor 'n salarisverhoging, het die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) gesê.
Volgens Mbuso Ngubane, KwaZulu-Natal se streeksekretaris, eis die werkers 'n verhoging van R3,22 per uur.
Die staking kom nadat die werkgewer die salaris van spanleiers verhoog het, het Ngubane gesê.
"Die effek van Marikana is problematies omdat mense nie verstaan dat die omstandighede verskillend is nie."
Ngubane het gesê die betoging het Maandag by Toyota Prospecton begin.
Numsa gaan Woensdag met die werkers en werkgewer ontmoet in 'n poging om die dispuut te beëindig, het hy gesê.
Eugene Msomi, woordvoerder van die EThekwini-metropolisie, het die betoging bevestig en gesê geen voorvalle is sover aangemeld nie.
Leo Kok, woordvoerder van Toyota, het gesê die maatskappy is tans in gesprekke met Numsa.
Kok het gesê produksie by die aanleg het Maandagmiddag tot stilstand gekom.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA