Toyota herroep 780 000 voertuie
2012-08-02 11:13
Chicago – Toyota het bekend gemaak dat hulle 780 000 motors in Amerika moet herroep om ‘n fout te herstel wat roes sou toelaat om so erg te raak, dat onderdele van die motor afval.
“Toyota het vasgestel dat die boute op die agtervering nie volgens die regte prosedure vasgedraai is nie, wat beteken dat roes rondom dié boute kan vorm,” het Toyota in ‘n verklaring gesê.
“As dit sou gebeur, kan die agtervering van die motor so erg roes dat onderdele van die motor kan afval.”
Dié herroeping kom ‘n maand nadat Toyota twee 2009-modelle by ‘n omstrede herroeping gevoeg het. Die modelle se vloermatjies het onder die remme vasgehaak en is met verskeie padsterftes verbind.
Toyota se wanhantering van die oorspronklike probleem en berigte van skielike, onbeplande versnelling het tot die herroeping van meer as 12 miljoen voertuie wêreldwyd gelei. Reguleerders het Toyota ook met sowat $50 miljoen (sowat R416 miljoen) beboet.
Sedertien het Toyota hard gewerk om sy goeie reputasie vir padveiligheid te herwin, selfs terwyl die Japanneese motorreus die impak van die ekonomiese krisis gevoel het.
Toyota het dit wel reggekry om sy posisie as die wêreld se top-motorvervaardiger by General Motors terug te wen.
Dié herroeping beïnvloed 760 000 RAV4 voertuie wat tussen 2006 en 2011 vervaardig is en 18 000 Lexus HS 250h-voertuie wat in 2010 vervaardig is.
Die voertuie sal gratis herstel word sodra die maatskappy 'n oplossing vir die probleem gevind het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP