Toetse wys hibriede is veilig
2009-09-17 01:11
Hoe veilig is ’n hibriedvoertuig tydens ’n ongeluk? Wel, kyk ’n mens na die jongste uitslag van botstoetse deur die die botsinstansie EuroNCAP, tel Toyota se Prius en Honda se Insight onder die heel veiligstes.
EuroNCAP het pas ’n hele klompie nuwe voertuie aan sy strawwe botstoetse onderwerp en sewe van die voertuie het ’n vyfster-toekenning gekry, met net Citroën se nuwe C3 wat vier sterre gekry het.
Ook wat voetgangerveiligheid betref, raak voertuie nou veiliger volgens die botsinstansie en die jongste botstoetse bevestig dit.
Veral die Honda Insight, Su-baru Legacy en Toyota Prius blyk minder gevaarlik vir voetgangers te wees as die res.
Die voertuie wat vyf sterre behaal het, is die Honda Insight, Kia Sorento, Renault Grand Scenic, Skoda Yeti, Subaru Legacy, Toyota Prius 3 en die Volkswagen Polo. Die Citroën het nie vyf sterre gekry nie omdat ’n elektroniese stabiliteitsprogram nie standaard in al die modelle in die reeks is nie.
Interessant is dit die 12de Renault wat ’n vyfster-toekenning sedert 2001 verwerf, met net meer onlangs die Renault Twingo wat nie vyf sterre kon behaal nie.
’n Vervaardiger soos Kia se aanslag op die gevestigde Europese vervaardigers blyk duidelik uit die Kia Sorento se goeie botsresultaat en die feit dat dit nou die derde Kia is wat die maksimum stergradering behaal. Die Ceed-model en die Soul het dit ook reggekry.
Vervaardigers het ook gou gereageer op EuroNCAP se nuwe nekslagstandaard.
Die Honda Insight, Kia Sorento en Skoda Yeti het almal goed presteer wat nekbeskerming betref, met die Citroën wat swak op die terrein gevaar het.
- Beeld