Toe nie verbeeldingsvlug ...
2010-08-26 12:00
Kaapstad - Hou stil by die verkeerslig. Kyk links of regs. Die kans is goed dat daar ’n Toyota Prius langs jou staan. Of een van die talle ander hibried-motors wat hier te koop is. Welkom in Kalifornië, nie net een van die mees ekologies bewuste plekke in Amerika nie, maar ter wêreld.
Maar dit is ook een van die rykste plekke op aarde met genoeg miljoenêrs en miljardêrs wat die beste, duurste en mees eksotiese motors kan bekostig. So dit het seker 100% sin gemaak dat Porsche hier in Kalifornië, die grootste mark ter wêreld vir sy motors, gewys het sy revolusionêre 918 Spyder is nie net ’n verbeeldingsvlug nie, maar ’n volkome werkende motor wat nie lank van nou nie te koop aangebied gaan word.
En die beste denkbare plek om die motor vir die eerste keer aan sy potensiële klante te wys, is tog die jaarlikse Pebble Beach Concours d’Elegance, waar meer as 200 van die wêreld se waardevolste en unieke motors vanjaar vir die 60ste keer op dié roemryke gholfbaan te sien was.
Dit het gewissel van ’n 1902-model Mercedes Simplex, die oudste motor op die pad wat die Mercedes-naam dra, tot die duurste moderne supermotors soos die Bugatti Supersport en Lexus LFA.
Maar dit was die 918 Spyder, die supermotor van die toekoms, wat ongetwyfeld die meeste aandag getrek het. Ja, die konsepmotor is vroeër vanjaar op die Geneefse Motorskou in Switserland gewys, maar die publiek het hom nooit sien ry nie. Boonop was daar vrae of Porsche te midde van die resessie geld beskikbaar sou stel sodat die motor vervaardig kan word.
Daardie vrae is ’n week gelede helder en duidelik beantwoord toe Porsche die motor in detail aan ’n uitgesoekte groepie motorskrywers van oor die wêreld heen gewys het. In ’n weggesteekte natuurreservaat in die heuwels naby Monterey het die hoof van die 918 se ontwerpspan, mnr. Michael Mauer, vir ons die Spyder deur sy passies gesit.
Dit is nou wel ’n hibried-motor, maar die onaardse gebrul van die V8-enjin, dieselfde 3.4 liter-oond wat in die RS Spyder- renmotor gevind word, laat jou duidelik verstaan dit is ook ’n supermotor. Daarteenoor kan die Spyder ook danksy elektriese motors op die voor- en die agteras teen lae spoed geluidloos voortseil, soos die Porsche-ingenieurs ook vir ons gewys het.
Twee dae ná hierdie private vertoning het Mauer dit voor die rykes en bekendes by Pebble Beach herhaal. Met ’n gebrul het hy die Concours binnegery, toe soomloos na die elektriese modus oorgeskakel en flink voor die klubhuis geparkeer. ’n Skare het binne oomblikke om die motor saamgedrom; die kameras het geflits.
Elke ryk motorentoesias (en daar is baie van hulle in Kalifornië), insluitend die Amerikaanse televisie-kletskoning Jay Leno, wou een hê. Volgens ingeligte bronne is daar reeds 1 000 vooraf- bestellings vir die motor. Porsche se skakelmense het van oor tot oor geglimlag: Taak suksesvol voltooi.
Maar wat is dit wat die 918 so spesiaal maak dat die superrykes van die wêreld hul Pradas en Gucci’s sou verrinneweer om die motor van nader te beskou?
Kom ons begin by die verrigting.
Die Spyder sal in minder as 7 min. 30 sek. ’n rondte om die Nördschleife van die Nürburgring kan voltooi. Dit is vinniger as die beste tyd tot nog toe van die legendariese Porsche Carrera GT. Om van 0 tot 100 km/h te versnel, gaan net 3,2 sek. neem. Sy topsnelheid gaan meer as 320 km/h wees.
En dit alles in ’n motor wat net sowat 3 liter per 100 km sal verbruik en minder as 70 g CO2 per km sal uitskei. Geen wonder dit word die supermotor van die toekoms genoem nie.
Sy hart is die genoemde 3.4 liter- V8 wat 373 kW opwek. Dis 83 kW minder as wat die V10 in die Carrera GT vermag, maar die elektriese motors moet nog in berekening gebring word. Gesamentlik voeg hulle nog 162 kW tot die kraglewering by en skielik lyk die prentjie heelwat beter vir die Spyder.
Boonop het hy nog vierwielaandrywing en ’n blitsvinnige sewespoed-PDK-ratkas wat hom nie net vinniger as die Carrera GT maak nie, maar ook ratser.
Op sy stuurwiel is daar ’n klein, ronde draaiknop vir vier verskillende bestuursmodusse. Stel hom op E en die 918 kan geluidloos sowat 25 km op slegs elektriese krag loop.
Kies jy H, gebruik die Porsche sy petrolenjin én elektriese krag, terwyl jy op S (vir Sport, natuurlik) die fokus na verrigting verskuif. En as jy dit op die renbaan waag?
Dan kies jy R vir renjaer sodat al die enjins tot hul dinamiese uiterstes gedruk word.
Die litium-ioon-battery net agter die sitplekke kan by ’n kragprop herlaai word, terwyl die petrolenjin en kragherwinning deur die remstelsel ook help om die battery te laai.
Dus: Die 918 Spyder is blitsvinnig en snoep, maar hoe lyk hy?
Kyk na die foto’s hiernaas. Fantasties.
Die kajuit is die ene koolstofvesel. Al die hoofkontroles is op of naby die stuurwiel en ’n tegnologies gevorderde toonskerm tussen die twee sitplekke huisves ’n raakskerm. Behalwe vir die kameras weerskante wat plek sal moet maak vir tradisionele kantspieëltjies, gaan die produksie- 918 Spyder getrou bly aan die ontwerp van die konsep. Dit is uitstekende nuus, want dié hibried-Porsche kan nou eenmaal die koppe laat draai.
Die ontwerp is geïnspireer deur legendariese sportmotors soos die 908 Spyder en die 917 Le Mans-koepee. Terwyl dit onmiskenbaar Porsche is, is dit ook hipermodern.
Die 918 Spyder gee motorliefhebbers weer hoop vir die toekoms.
Dit bewys jy kan omgewingsgesind wees sonder om verrigting (en hope pret) prys te gee. Jy gaan natuurlik vir dié besonderse voorreg moet betaal. Porsche se woordvoerders en ingenieurs wou hulle geensins uitlaat oor hoeveel die Spyder gaan kos en presies wanneer hy te koop gaan wees nie.
Hier is een leidraad: Die Carrera GT het sowat R3,5 miljoen in Amerika gekos. Die Spyder GT gaan beslis nie goedkoper wees nie.

Trotse herkoms ... Die groen Porsche 918 Spyder se ontwerp is geïnspireer deur klassieke renmotors soos die 908 Spyder en die 917 Le Mans-koepe.

Hoop vir sportmotorentoesiastie ... Porsche se 918 Spyder is ’n supermotor, maar hy kan soos ’n Prius ook geluidloos en petrolloos ry.

Die 918 se byderwetse instrumentpaneel.

Die 918 Spyder trek hope aandag op Pebble Beach.