Tata se Nano word opgeknap
2011-11-23 13:30
Indië – Indië se Tata Nano, die wêreld se goedkoopste motor, wat sukkel om kopers te kry sedert dit in 2009 bekendgestel is, het ‘n opknappingsessie ondergaan om dit meer aanloklik te maak, het die vervaardiger Maandag gesê.
Tata Motors, wat die Nano sowel as die Britse luukse handelsname Jaguar en Land Rover vervaardig, het gesê dié motor sal nou in meer kleure beskikbaar wees. Die binnekant van die motor sal ook luukser wees, en dit sal spog met beter brandstofverbruik en enjinkrag.
Dié veranderings is aangebring nadat terugvoer van Nano-eienaars verkry is, het P.M Talang, operasionele besturende direkteur van Tata Motors Indië gesê.
Tata het verwag dat hulle ongeveer 25 000 Nano’s ‘n maand sou verkoop en het families geteiken wat van ‘n motorfiets na vier wiele wou opgradeer.
Kenners meen die Nano se verkope het gedaal weens kommer oor veiligheid nadat ‘n hele paar van dié motors se enjins aan die brand geslaan het en ook foute by die produksie van die motor ingesluip het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP