F1: Strydwaens onthul; bande getoets
2011-02-03 09:24
Groot opwinding en afwagting heers onder Formule 1-geesdriftiges, want die amptelike aanloop tot die 2011-seisoen het die afgelope week begin met die onthulling van die meeste spanne se nuwe motor en die aanbreek van die eerste, tussenseisoen-toetssessie op Valencia in Spanje.
Ferrari was verlede Vrydag die eerste wat sy nuwe motor bekend stel. Die F150, so genoem ter herdenking van die vereniging van Italië 150 jaar gelede in 1861, se ontwerpkenmerke word deur die meeste ander weerspieël: ’n Lang, plat en hoë neus, asook ’n stywe verpakking van al die komponente aan die stertkant met die uitlaatpype wat laag uitkom.
Lotus het sy T128 Maandag aanlyn bekend gestel en hy sou gister op Valencia vir die eerste keer in lewende lywe te sien wees; Sauber se C30 en die Renault R31 het kort daarna gevolg met albei bekendstellings wat in die kuipelaan van die Ricardo Tormo-baan gedoen is.
Dinsdag, die eerste dag van die toetssessie wat vandag eindig, is ’n hele rits nuwe motors ook in die kuipelaan bekend gestel: Red Bull se RB7, Toro Rosso se STR6, Williams se FW33 (met ’n tussentydse kleurskema) en Mercedes se W02.
McLaren se MP4-26 word môre in Berlyn bekend gestel; Virgin se VR02 volg Maandag in Londen; en Force India se VJM04 drie dae later op Jerez, terwyl ’n datum vir die bekendstelling van Hispania se 2011-motor teen druktyd nog nie bekend was nie.
Die wysiging van die tegniese regulasies vir vanjaar het die ontwerpers met ’n paar uitdagings gelaat. Die verbod op die “F-gang” en dubbele lugverstrooier, tesame met die verpligte verstelbare stertvlerk, het hulle met nuwe oë na die hele agterkant van die motor laat kyk.
Veral die Renault se uitlaatstelsel lyk na ’n splinternuwe benadering, terwyl sommige die voorbeeld van verlede jaar se Red Bull RB6 gevolg het met trekstang-agtervering, wat ’n smaller en kompakter ratkas moontlik maak.
Die hertoelating van die “KERS”-energieherwinningstelsel het nog ’n uitdaging gestel: Hoe om dit so te verpak dat dit nie die motor se swaartepunt nadelig beïnvloed nie. Dit lyk of die meeste besluit het om dié stelsel se batterye onder die brandstoftenk te plaas. Die toetrede van Pirelli as Formule 1 se amptelike rubberverskaffer was nog ’n uitdaging.
Omdat die spanne nog geen betekenisvolle bandtoetse kon doen nie, moes die ontwerpers grootliks ’n ingeligte raaiskoot waag met die uitleg van die lugdinamika en veringstelsel en hulle hoop maar die die Pirelli-bande sal daarby inpas.
Hierdie week se toetssessie was juis grootliks daarop gemik om data oor die nuwe rubber in te samel. Dinge soos die konstruksie van die band se sywal en hoe dit onder hoë, laterale ladings vervorm, het ’n dramatiese uitwerking op meganiese en lugdinamiese greep en dus hantering.
Die spanne sou ook wou uitvind oor die tempo waarin die vier onderskeie bande afloop – soos in die verlede is daar weer supersagte, sagte, medium en harde droëweersamestellings.
Die aftelling tot die begin van die nuwe seisoen in Bahrein die naweek van 11-13 Maart het nou begin en deur die loop van die volgende paar weke behoort ons ’n aanduiding te kry van wie die beste van al dié uitdagings gemaak het.
Verwoerd is ’n onafhanklike F1-kenner en geakkrediteerde F1-joernalis. Sy rubriek word op uitnodiging geskryf.
* Om met die skrywer in verbinding te tree of vir inligting oor ander dienste wat hy aanbied, besoek gerus sy webwerf by www.hendrikverwoerd.co.za. Volg hom ook op Facebook (facebook.com/hendrik.verwoerd1) en Twitter (@verwoerdf1).