Stop padslagting in SA só
2012-01-25 09:05
Suid-Afrika se padsterftekoers is een van die hoogstes ter wêreld. Net onontwikkelde lande soos Eritrea, Angola, Ethiopië en Gambië, asook oorloggeteisterdes soos Irak en Afganistan, het ’n hoër koers.
Die syfers styg elke jaar en ’n onlangse peiling deur TNS Suid-Afrika, ’n vooraanstaande bemarkings- en maatskaplike-insig-maatskappy, toon onweerlegbaar dat die publiek die probleem as van kritieke belang beskou en desperaat is om ’n oplossing te vind.
Onlangse voorstelle om die spoedperk te verlaag om verkeersongelukke te verminder, toon dat ons “na strooihalms gryp” en nie ernstig is om die ware kwessies wat ons hoë padsterftesyfer meebring, aan te pak nie. Deur dít te sê, keur ek hoegenaamd nie spoedoortredings goed nie.
Aan die ander kant is ons huidige spoedperke veilig en nie die probleem nie. Daar is voorbeelde wêreldwyd wat bewys het dat die verlaging van spoedperke nie noodwendig tot minder padsterftes lei nie.
Verreweg die grootste deel van die Suid-Afrikaanse publiek vra pro-aktiewe maatreëls om die toenemende slagting op ons paaie te stuit.
Die TNS-peiling toon 81% van die respondente meen dat beter wetstoepassing die beste oplossing is.
“Beter wetstoepassing” in hierdie sin het egter talle dimensies en ’n holistiese benadering oor ’n langer tydperk is deurslaggewend om doeltreffende oplossings te vind.
Ons gaan elke jaar deur dieselfde “padveiligheidsveldtog”-praatsessie deur verskillende departemente en ander owerhede, en die eindresultaat is nog ’n jaar en vakansietyd van veels te veel ongelukke en padsterftes.
Oplossing sluit in:
* Pak wetteloosheid op die paaie sonder verdraagsaamheid aan. Dit geld nie net die algemene verontagsaming van padreëls nie, veral onder taxibestuurders (wat nou deur talle ander motoriste nagevolg word). Dit geld ook kwessies soos onpadwaardige voertuie, oorlaaide en lisensielose voertuie, bestuurders sonder ’n rybewys en dronkbestuur. Al hierdie ingrypings verg goed opgeleide en nie-korrumpeerbare mannekrag, asook hulpbronne.
* Dit was ’n goeie idee om jare gelede die Padverkeerbestuurskorporasie tot stand te bring, maar dié instelling het tot dusver nie veel vermag nie. Hierdie span moet ’n angel kry, asook die vermoë om prosesse te standaardiseer en ernstige verkeerswetstoepassing weer in werking te kry. Ons owerhede moet ophou om die ware oortredings wat die slagting op ons paaie veroorsaak, oogluikend toe te laat.
* Doen iets aan die taxibedryf. Dit is geen geheim dat die ergste oortreders in Suid-Afrika die taxibedryf is nie en dit is tyd dat amptenare doen waarvoor hulle betaal word: regeer. Die huiwering van wetstoepassingsowerhede om dié bedryf te pak is ’n raaisel. Ernstige inisiatiewe moet in werking gestel word om dié bedryf te dwing om wette te gehoorsaam, bestuursvernuf te verbeter, seker te maak dat voertuie padwaardig en nie oorlaai is nie en dat alle bestuurders ’n permit en ’n rybewys het.
Ons is bly oor die stelling verlede maand deur mnr. Mvuyise Mente van Santaco dat gesprekke met sy lede gevoer is en hulle aangemoedig sal word om langafstand-taxi’s vir padveiligheid te toets.
Dit is ’n goeie begin, maar Santaco moet veel verder gaan deur ’n beleid van geen verdraagsaamheid jeens lede wat oortree en sy seën aan owerhede om hierdie wilde gedrag uit te roei.
In Brasilië is ’n soortgelyke taxibedryf wat met navolgenswaardige doeltreffendheid en die nakoming van padregulasies funksioneer. Dit is opmerklik dat Brasilië, met ’n bevolking van meer as 200miljoen mense (sowat vier keer meer as ons s’n), ’n padsterftekoers van 70,9 per 100 000 voertuie het – sowat twee derdes minder as dié van Suid-Afrika, met 209 sterftes per 100 000 voertuie per jaar.
Argentinië se koers is selfs beter. Ons kan baie van ons Suid-Amerikaanse kollegas leer.
* Vrae moet gestel word oor die motivering vir verkeersboetes. Dit is tyd om die polisie van agter die brûe en bosse te verwyder. Al wat hulle daar doen, is om winsgewende plekke vir kameralokvalle te vind om inkomste te genereer om die koffers van wanfunksionele en ondoeltreffende metro’s en munisipaliteite te vul, wat min doen om padveiligheid te verbeter en ongelukke te verminder.
In Engeland het sommige munisipaliteite kameras verbied omdat dit nie die beoogde doel dien nie, naamlik veiliger bestuur. Hierdie moontlikheid moet ook in Suid-Afrika ondersoek word, en die gebruik van kameras in spoedlokvalle moet betwis word.
* Roei korrupsie uit in die instellings waar rybewyse en voertuiglisensies uitgereik en waar bestuurders en voertuie getoets word. Ons word al jare lank blootgestel aan die grootskaalse onreëlmatighede en korrupte aktiwiteite in hierdie omgewings, maar tog word nie genoeg gedoen om dié gedrag deur staatsamptenare uit te roei nie.
* Verwyder onpadwaardige voertuie van die pad. Die reëls en prosedures bestaan, byvoorbeeld ’n waarskuwing om onpadwaardigheid reg te stel, waarna die voertuig geskut en aan die eienaars ’n swaar boete opgelê word. Reeksoortreders van padreëls moet geen genade gegun word nie. Voertuie moet gekonfiskeer word en die bestuurder en eienaar moet beboet word.
* Die verswakkende padtoestande verg dringende aandag. Dit geld nie net die padoppervlak nie, maar ook padtekens en verkeersligte. Die onlangse aankondiging oor geld van die nasionale tesourie vir beplande padinfrastruktuur-instandhouding en -opknapping is baie bemoedigend en ek prys die minister van vervoer vir hierdie inisiatief, wat hopelik vroeg vanjaar sal begin.
Staan saam
Ons vertrou dat 2012 ’n jaar sal wees waarin moeilike besluite geneem en opgetree sal word om die voortgesette ondermyning van reg en orde op ons paaie te stuit.
Ons doen ook ’n beroep op sakelui, regslui, versekeringsmaatskappye en die publiek om saam te staan om te verseker dat doeltreffende planne in werking gestel word om die situasie op te los.
Op hierdie manier sal ons die toenemende getalle skandalige en onnodige sterftes kan verminder wat hierdie land in oneer bring.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad