Steeds te veel dronkbestuurders
2010-12-29 08:46
Die Burger
Kaapstad - Verkeersowerhede sê te veel motoriste bestuur nog steeds onder die invloed en ry te vinnig ten spyte van die feit dat hulle ten volle bewus is van die gevare.
Verkeersbeamptes is ook besig om toe te slaan op motoriste met vals nommerplate. Daar is toenemende gevalle van mense wat vals plate aansit om spoedkameras te probeer flous.
Verkeersvolumes het Dinsdag weer landswyd toegeneem met mense wat van en na vakansiebestemmings vertrek.
Meer as 900 mense is op Suid-Afrikaanse paaie dood sedert die begin van die vakansieseisoen.
Talle passasiers in Mthatha in die Oos-Kaap is gestrand gelaat nadat die verkeersowerhede 'n luukse passasiersbus van die pad afgehaal het omdat dit onpadwaardig is.
Die bus van SA Roadlink is by die toetsstasie in Mthatha op die N2 getoets nadat die remme na bewering onklaar geraak het. Volgens Arrive Alive was die bus met 30 passasiers van Port Elizabeth na Johannesburg onderweg.
Die passasiers het die polisie ingelig dat daar fout met die bus is.