Spoedoortreders gaan nie misdaadrekord hê
2012-03-19 07:00
Johannesburg – Indien Gareth Cliff, 5FM-omroeper, onder Aarto beboet was, sou hy nie ’n misdaadrekord gehad het nie.
So het S’bu Ndebele, minister van vervoer, Sondag by ’n padversperring in Springs aan die Oos-Rand gesê.
Cliff het verlede week skuld beken en is ’n boete van R10 000 opgelê nadat hy vasgetrek is terwyl hy 182 km/h in ’n 120 km/h-sone gery het.
Die padversperring in Springs was deel van die departement se Paasnaweek-verkeersveiligheidsveldtog wat van stapel gestuur is.
Ndebele het gesê motoriste is bang vir die Wet op die Administratiewe Beregting van Verkeersmisdrywe (Aarto), maar vir sekere oortredings, soos spoed, is dit die verskil tussen ’n misdaadrekord en die verloor van punte wat hulle weer kan opbou.
“Gareth Cliff het nou ’n misdaadrekord en hy gaan dit moeilik vind om ’n visum te kry om byvoorbeeld Amerika te besoek. Indien hy ‘ja’ antwoord op die vraag of hy ’n misdaadrekord het, sal die ambassade nie eens verder kyk om te sien wat sy oortreding was nie.”
Ndebele het gesê Aarto-wetgewing behoort teen Junie of Julie ingestel te word, wanneer die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK) se nuwe uitvoerende hoof en raad aangestel is. Mnr. Collins Letsoalo is die waarnemende uitvoerende hoof.
“Ons gaan Aarto nie dadelik landwyd in werking stel nie, maar met die groot sentrums begin.”
Ndebele het gesê daar is ook wysigingswetsontwerpe wat nog deur die kabinet goedgekeur moet word, insluitend die verpligte vasgordel van babas in spesiale stoeltjies.
Ashref Ismail, woordvoerder van die RTMC, het gesê die wet maak nie voorsiening vir kinders jonger as drie jaar nie, maar dat wetgewing binnekort aangepas sal word.
“Benewens verpligte babastoeltjies, sal kinders jonger as 14 jaar nie meer ’n passasier voor in ’n voertuig mag wees nie.”
Hy het gesê dit behoort ’n einde te bring aan passasiers wat babas op hul skote vervoer.
“Mense besef nie hoe gevaarlik dit is nie.”
Ndebele het gesê leerlingbestuurders en motoriste wat hul rybewyseksamen geslaag het, sal vir drie jaar geen alkohol mag gebruik voordat hulle bestuur nie.
“Ons is besig met dié wysiging in die wet en hoop dat dit binne die volgende jaar deur die kabinet goedgekeur sal word.”
Indien hulle binne dié drie jaar gevang word, kan hulle rybewyse gekanselleer word en sal hulle die toetsingsproses moet herhaal. Daar sal ook moontlik ander spoedbeperkinge wees vir nuwe bestuurders.
Ndebele het gesê verkeerspolisiëring sal verskerp word in die Paasnaweek.
“Elke bestuurder wat afgetrek word, sal vir alkoholgebruik getoets word.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld