Só ry die nuwe Jeep Grand Cherokee
2011-05-25 15:14
Hoe verskil die nuwe Grand Cherokee van die vorige een?
Hy mik baie hoër. Waar die ou Grand Cherokee ’n gerespekteerde veldryer was met, laat ons eerlik wees, ’n baie plastiekerige binneruim, is dié een se binneruim in ’n heel ander wentelbaan.
Gelukkig is dit nie ten koste van veldryvermoë nie, hoewel party puriste sal neus optrek vir die feit dat dit nou Quadra-Liftlugvering het met verstelbare ryhoogte en ’n stelsel genaamd Selec-Trac. Dis basies Jeep se weergawe van Land Rover se Terrain Response.
Hy’s dus steeds bekwaam in die veld?
Absoluut. Al die modelle het byvoorbeeld 18 duim-bande. Selfs die topmodel, die 4,7 liter-Hemi V8 Overland wat 20 duimbande het, kan bestel word met ’n veldrypakket wat goed soos 18 duim-bande, ’n pensplaat en ander toerusting insluit.
Ouens wat elke naweek Van Zylspas ry, glo aan 15 of 16 duimbande. Maar hulle moet onthou dat die Grand Cherokee meeding met rygoed soos die Toyota Prado (17 duim) en die Land Rover Discovery 4 (19 duim).
Nes met die Disco 4 se Terrain Response kan jy ook die Grand Cherokee se ryhoogte en elektroniese vastrapbeheer verstel (met die Prado se Multi-Terrain Select kan jy net laasgenoemde verstel, aangesien sy ryhoogte nie verstelbaar is nie) om by verskillende toestande aan te pas.
Die Quadra-Lift-stelsel kan eintlik selfs meer doen as die Land Rover-stelsel, want afgesien van 27,2cm se grondvryhoogte op die hoogste verstelling, sak die Grand Cherokee outomaties laer teen snelwegsnelhede en as jy makliker wil in- en uitklim, is daar ’n nóg laer ryhoogteverstelling.
Jy het seker al gerugte gehoor dat die nuwe Grand Cherokee nie meer ’n vaste as agter het nie. Dit is inderdaad so. Maar as ’n volledige pakket het die nuwe model tog meer veldryvermoëns as sy bekwame voorganger; moet jouself dus nie blind staar teen die onafhanklike agtervering nie.
’n Ander praktiese plan was die brandstoftenk wat 93 liter kan sluk.
Die kort oorhange voor en agter help alles om hom verbasend rats oor klippe te maak en die enigste ding wat hom tydens die bekendstelling op die toetsbaan benadeel het, was die padgeoriënteerde bande. Maar hou in gedagte dat die nuwe Grand Cherokee al die Rubicon Trail in Amerika suksesvol voltooi het – en dis ’n klip- en rotsbesaaide roete wat bitter min mense ooit die gelyke van sal ervaar.
Om te lees wat onder sy enjinkap wegkruip, besoek WegRy se webblad