Slinkse motorhandelaar vas oor bedrog
2011-10-19 14:30
Boulder – ‘n Amerikaanse handelaar in luukse motors is in hegtenis geneem na hy kliënte bedrieg het en hul geld in sy sak gesteek het sonder om die motors af te lewer.
Gregory Kotsaftis van Boulder, Colorado is aangekla vir die diefstal van $20 000 (sowat R160 000) of meer en bedrog, het die polisiewoordvoerder Kim Kobel gesê.
Kotsaftis besit Go Motors, wat op die maatskappy se Facebook-blad as ‘n “handelaar in luukse ingevoerde motors” beskryf is.
“Ons is trots op ons etiese sakepraktyke,” lui die maatskappy se webblad. “Dít is die kultuur by Go Motors.”
Die ondersoek het in Augustus begin toe die polisie ‘n klagte van ‘n Kanadese motorhandelaar ontvang het na dié glo ‘n BMW ter waarde van $64 000 (sowat R511 000) van Go Motors aangeskaf het, maar nooit die motor ontvang het nie.
Die handelaar, Paul Motors van Montreal, het Kotsaftis herhaaldelik probeer kontak vir ‘n terugbetaling, maar sy tjeks is glo geweier.
Toe Paul Motors die polisie wou betrek, het Kotsaftis gesê dit sal die terugbetaling vertraag.
Die polisie het gesê hulle het minstens sewe ander slagoffers ook identifiseer.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.