Siemens, Volvo werk saam aan elektriese motors
2011-08-31 14:24
Frankfurt – Die Duitse tegnologiefirma Siemens gaan sy kragte aan die Sweedse motorvervaardiger Volvo leen en tegnologie vir sy elektriese motors vervaardig.
Die twee maatskappy het ‘n vennootskap aangegaan om elektroniese bestuur-, krag- en herlaaitegnologie te ontwikkel, het die Duitse firma Woensdag in ‘n verklaring gesê.
“Beide maatskappye se mikpunte vir elektriese motors is perfek in pas met mekaar,” lui Siemens se verklaring.
Die elektriese Volvo C30 sal as ‘n toetsmuis vir die nuwe tegnologie dien en vroeë toetsmodelle sal teen die einde van die jaar stil-stil op renbane rondjaag.
Teen die einde van 2012 sal Volvo 200 voertuie aan Siemens oorhandig vir toetse in “alledaagse omstandighede.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP