Sakelui moet help om SA paaie te beveilig
2011-11-09 07:04
Johannesburg – Meer as 14 000 mense sterf jaarliks in padongelukke in Suid-Afrika en dít kos die ekonomie sowat R60 miljard.
Dit is nie net die departement van vervoer en padagentskappe se plig om dié slagting te verminder nie, sê S’bu Ndebele, minister van vervoer.
Ndebele het Dinsdag op die bekendmaking van Imperial I-Pledge se padveiligheidsveldtog in Sandton gesê sakelui moet ook betrokke raak om die land se paaie te beveilig.
“’n Groot aantal maatskappyvoertuie is betrokke by ongelukke en as deel van die internasionale Dekade van Aksie vir Padveiligheid doen ons ’n beroep op sakeondernemings om betrokke te raak as vriende van dié veldtog.”
Ndebele het gesê sakeondernemings kan betrokke raak deur hul werknemers meer bewus van padveiligheid te maak.
Dit sluit in die opstel van gedragskodes wat werknemers verplig om basiese padveiligheids-reëls, soos die dra van sitplekgordels en om nie op selfone te praat terwyl hulle bestuur nie, te volg.
Hy het gesê werkverwante padongelukke en beserings kos die regering en die private sektor miljarde rande in verlore werktyd, mediese koste, herstelkoste en versekering.
Ndebele het gesê Imperial dien as ’n voorbeeld vir ander sakeondernemings om betrokke te raak by padveiligheid. Werknemers van Imperial word aangemoedig om ’n belofte af te lê om veilig te bestuur en basiese veiligheidsmaatreëls toe te pas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld