Resiesmotor wat dodelikste ongeluk nóg veroorsaak opgeveil
2011-12-02 11:09
Londen – ‘n Antieke Britse resiesmotor wat die middelpunt van motorsport se mees dodelikste ongeluk was is tydens ‘n veiling vir ongeveer R10,6 miljoen verkoop.
Die 1953 Austin-Healy 100 spesiale toetsmotor was in die 1955 Le Mans-ongeluk betrokke waarin die Franse bestuurder Pierre Levegh en 83 toeskouers hul lewens verloor het.
Dié motor het vir 42 jaar onaangeraak in ‘n skuur gelê.
‘n Woordvoerder vir Bonhams-afslaershuis het Donderdag gesê dit is fantastiese resultate vir die Austin-Healy en ‘n wêreldrekord vir enige motor van dié soort by ‘n veiling.
Die veiling het ongeveer 10 minute geduur met vier bieërs wat vir die motor meegeding het.
“Ons het bieërs in die kamer en op die telefoon gehad. Maar die motor het uiteindelik na ‘n privaatkoper in die kamer gegaan.”

– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP