RS3 kry Audi se vyfsilinder en 250 kW
2011-11-03 12:13
Johannesburg – As ’n modelreeks mag hy dalk aan die einde van sy rakleeftyd staan, maar vir ’n swanesang is 2,5 liter en ’n fris turbo onder ’n buks se enjinkap glad nie te sleg nie.
So ’n jaar of twee gelede het Audi sy motorsportwortels opgegrawe toe hy sy 2,5 liter-vyfsilinder-oond aan die mark gewys het. Dis immers met vyf silinders wat Audi sy tydren-Quattro’s in die vroeë jare 80 uitgerus het.
Sedert daardie dae het hy die breë weg gevolg deur ook met viers, sesse en agts te speel. Totdat die TT RS met einste vyf silinders onder die enjinkap sy opwagting gemaak het.
Dis daardie 2,5 liter-kragbron wat Audi ook in sy nuwe RS3 Sportback inspan, met sy vyf silinders en turbo-aanjaging en al.
Die warmste van die warm A3-modelle (daar’s reeds ’n S3 ook te kies) kry ook permanente vierwielaandrywing en die krag word deur die blikbrein tussen die voor- en agterwiele verdeel.
Dis ’n interessante roete wat Audi volg. Die RS3 word eerstens in Sportback-gedaante (vier deure) na die mark gebring en nie as die gewone tweedeur-koepee nie. Dan gebruik Audi ook die nuwe 2,5 liter-enjin en nie die 2,0 liter-turbo-enjin, die algemene verrigtingsoond in die VW-groep, nie.

Skaars ’n maand of drie gelede is die Golf R en Scirocco R juis met dié 188 kW-weergawe van die tweeliter-turbo-oond bekend gestel.
Maar ja, as jy ’n hoëdruk-turbo-aanjaer aan ’n 2,5 liter-enjin koppel, is die resultaat 250 kW en 450 Nm wringkrag. Dis fris.
Benewens die turbodruk van 1,2 bar gebruik die enjin Audi se sogenaamde FSI-tegnologie, wat eintlik maar net brandstofinspuiting onder ekstrahoë druk beteken.
Slim kleptydreëling is die laaste van die enjin se truuks om beter ontbranding met elke silinderslag te voorsien. Die resultaat is die goeie kragsyfers; met die turbotegnologie wat vir ’n plat wringkragkurwe van maksimum krag tussen 1 700 r/min. en 4 500 r/min sorg.
Deur dié wilde klong nou aan Audi se netjiese sewegang-, DSG-soort, outomatiese ratkas te koppel, gebeur daar wilde dinge as jy voet neersit.
Audi sê van staande draf jy in net 4,5 sek. tot by 100 km/h en die topspoed word tot 250 km/h beperk.
Wat sy voorkoms betref, spog die RS3 met diep lugskorte voor en ’n drukvin wat agter, bo teen die dak, vasgemaak is. Die buks rus nou ook 25 mm laer in sy sokkies as die gewone model.
Binnelangs hou twee sportsitplekke jou stewig in die saal vas, terwyl die wysers op die paneel reg voor jou ’n swart agtergrond met wit syfers en rooi naalde het. ’n “Sport”-skakelaar bied jou ’n effense keuse tussen rygemak en die ratsheid van ratskakelings.
Luukshede sluit items in soos parkeergonsers agter; LED-lampies by die hoofligte wat regdeur die dag skyn; ’n selfrem-funksie wat keer dat die kar terugloop as jy teen ’n bult wegtrek; en ’n ritrekenaar wat rondtetye, oliedruk en -temperatuur en turbodruk aandui.
Slegs 54 RS3’s is vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar en almal is glo reeds opgeraap. Maar die goeie nuus is dat Audi Suid-Afrika volgende jaar nog 50 modelle kan verwag.
Teen R535 000 stuk is dit nogal ’n paar rand vir ’n buks-ryding, maar met hom gaan jy menige Porsche-eienaar met ’n rooi gesig laat.
Min rubber en diep lugskorte voorspel net een ding: Daar’s iets aan’t broei onder die enjinkap. Audi se nuwe RS3 Sportback is ’n paar Suid-Afrikaners beskore.
- Beeld