R670 milj. nodig vir Kaapstad se F1-bod
2011-07-06 12:16
Kaapstad – Die maatskappy wat Formule Een na Kaapstad wil bring het Dinsdag gesê hy het ongeveer $100 miljoen (sowat R670 miljoen) van beleggers nodig om dié droom te verwesenlik.
Bernie Ecclestone, F1-grootbaas, het aan Eyewitness News erken dat Kaapstad se bod om oor twee jaar die gasheer vir die Grand Prix te wees, amper gefinaliseer is.
Die Cape Town Grand Prix-maatskappy het bevestig hy onderhandel met Ecclestone en die bestuur van Formule Een.
Esther Henderson, uitvoerende kommunikasiehoof, het gesê die koste om só ‘n wedren aan te bied is astronomies.
“Die jaarlikse lisensiefooi wat ons aan Formule Een moet betaal is ongeveer $40 miljoen (sowat R270 miljoen). In terme van infrastruktuur kyk ons na $15 miljoen (sowat R101 miljoen).”
Sy het gesê die regering se ondersteuning is belangrik om te verseker dat beleggers ook aanboord sal kom.
– Eyewitness News.
– Volg Nuus24 op Twitter.