Padvalke gaan jou pak as jou kar só rook
2011-09-01 07:03
Pretoria – Die Tshwane-metro se “lugbesoedelingspolisie” kan binnekort op inwoners en sakelui wat nie die omgewing in ag neem nie, begin toeslaan.
’n Verslag oor Tshwane se luggehalteregulasies het verlede week op ’n raadsvergadering gedien.
Die raad het besluit dié konsep-regulasies is gereed vir ’n openbare deelname-proses.
Die regulasies behels onder meer dat daar voortaan teen motoriste met voertuie, “wat donker rook of sigbare toksiese gasse vrystel” opgetree gaan word.
Dit gaan Tshwane, volgens die verslag, in staat stel om stofbeheer, die brand van huishoudelike en tuinvullis, nywerheidsafval, rubber en die sproei van insekdoders en spuitverf te moni- tor en teen sondaars op te tree.
Luidens die verslag het die regering se Wet op Luggehalte van 2004 ’n “paradigmaskuif” in die benadering tot luggehaltebestuur in Suid-Afrika meegebring.
Daar word aangedui Tshwane het tot dusver lugbesoedelingskwessies “tot ’n sekere mate” met bestaande regulasies aangepak, maar daar is ’n behoefte om ’n afsonderlike stel regulasies in werking te stel.
Munisipaliteite is veronderstel om hul eie gasvrystellingstandaarde vas te stel.
Skuldiges kan vir sekere oortredings tot twee jaar tronkstraf gevonnis word of ’n stewige boete op die lyf loop.
Die verslag is uit ANC- en opposisiegeledere verwelkom.
Die DA het gesê luggehalte speel ’n groot rol op inwoners se gesondheid.
“Die giftige rookkombers wat in die winter oor Tshwane hang, bevestig die probleem,” het prof. Duncan Baker, ’n DA-raadslid, gesê. Volgens Baker sal die regulasies van geen nut wees sonder doeltreffende wetstoepassing nie.
“Dit gaan belangrik wees dat die lug by verskeie strategiese plekke in die metrogebied gemonitor word.”
Hy het gesê ’n verslag het verlede jaar voor die raad se portefeuljekomitee vir omgewingsbestuur gedien waarin aangedui is dat Tshwane se toerusting of buite werking of verouderd is.
“Gaan die geld hiervoor beskikbaar wees?” wou Baker weet.
Philip van Staden, VF+-leier in die raad, het gesê Tshwane moet “hard en doeltreffend slaan” met die regulasies.
“Daar is nywerheidsreuse, veral in die weste van Pretoria, wat bloot groter winste nastreef en hulle nie steur aan die omgewing nie.”
Daar is in ’n raadsverslag van 2008 aangedui die grootste kommer bestaan in dele van Pretoria-Wes en die Moot.
Dit is onseker wanneer die konsep-regulasies vir openbare deelname gepubliseer word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld