Onmin oor planne vir nuwe tolplaza
2012-01-10 08:06
Kaapstad – Daar is onmin tussen inwoners van Houtbaai en die provinsiale regering oor ’n tolplaza wat binnekort vir Chapmanspiek gebou gaan word.
Die Inwonersvereniging van Houtbaai dreig om ’n hofinterdik teen die bou van die tolplaza te bekom, en die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Robin Carlilse, is omgekrap oor “onakkuraathede” in die kritiek op die planne.
Planne vir die bou van ’n tolplaza vir Chapmanspiek kom al ’n geruime tyd aan, en die destydse nasionale minister van omgewingsake, Marthinus van Schalkwyk, het dit in 2008 goedgekeur.
“Niks het sedertdien verander nie,” het Carlilse Maandag gesê.
Chapmanspiek word in ’n vennootskap tussen die openbare en die private sektor deur die Wes-Kaapse regering en die konsessiehouer Entilini bestuur. Entilini sal die kantoorkompleks, aan Houtbaai se kant van Chapmanspiek, gebruik.
Die voorsitter van die Inwonersvereniging van Houtbaai, mnr. Len Swimmer, meen egter dit is onwettig om in ’n nasionale park, in dié geval die Tafelberg Nasionale Park, te bou.
“Sodra die bouwerk begin, gaan ons ’n interdik kry om dit te keer,” het hy gesê.
Die kompleks, wat kantoorgeboue insluit, sal sowat 2 000m² van die nasionale park beslaan.
Volgens Carlisle was die grootste gedeelte van dié 2 000m² voorheen ’n steengroef.
Swimmer meen ook dit is “belaglik om ’n massiewe tolplaza” te bou. “Wat ons tans het, werk,” het hy gesê en bygevoeg dat dit onnodig is om geld aan so ’n gebou te bestee. Daar is boonop baie kantoorgeriewe in Houtbaai.
Die Burger het verlede jaar berig dat die Wes-Kaapse regering ’n nuwe kontrak met Entilini gesluit het ingevolge waarvan die regering R25 miljoen vir die bou van die tolhek sal bydra.
Entilini sal R11,6 miljoen bydra, asook ’n verdere R13 miljoen wat hy verskuldig is aan boetes en aanpassings aan vorige rekenings wat hy van die Wes-Kaapse regering gekry het.
Carlilse het Maandag gesê die vorige kontrak, wat beding is toe die ANC in die provinsie aan die bewind was, het Entilini ten koste van die provinsie bevoordeel. Die provinsie sal ingevolge die nuwe kontrak sy bydrae terugkry en in die tolprojek se wins deel.
Carlisle het gesê dit gaan nie ’n luukse kantoorgebou wees nie, maar slegs funksioneel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger