Nuwe reëls se invloed te sien in F1-blitse se lyne
2010-02-05 10:00
Kaapstad - Met sewe van die verwagte dertien 2010-motors wat teen druktyd reeds bekend gestel is – Virgin sou gister die eerste van die nuwe spanne wees wat sy motor onthul – het ’n paar gemeenskaplike ontwerppatrone reeds duidelik geword.
Dié patrone, wat in ’n mindere of meerdere mate in al vanjaar se motors voorkom, is die regstreekse gevolg van die twee belangrikste nuwe reëlveranderinge wat van hierdie seisoen geld.
Die eerste daarvan is die verbod op brandstofhervulling, wat op sy beurt twee belangrike ontwerpimplikasies het: Hoe om ’n brandstoftenk wat sowat twee keer groter is te huisves en hoe om die motor se lugdinamika só te ontwerp dat dit brandstofdoeltreffendheid bevorder.
Dié twee gaan hand aan hand, want hoe minder brandstof ’n motor verbruik, des te kleiner hoef die brandstoftenk te wees wat die motor ligter en dus vinniger maak en hantering verbeter.
Die grootte en plasing van die brandstoftenk het ook ’n invloed op die swaartepunt van die motor en sy gewigverspreiding.
Die tweede belangrike nuwe reël is dat die voorbande aansienlik smaller as verlede jaar s’n is.
Die ontwerpimplikasie daarvan is ’n verlies van greep aan die neuskant van die motor wat lei tot minder remkrag en meer stuurtraagheid.
Om dit op te los, moet die gewigverspreiding verder vorentoe wees as verlede jaar en die neusvlerk moet lugdinamies doeltreffender wees om meer afwaartse drukkrag te verseker; sonder die gepaardgaande toename in weerstand (“drag”).
Die maklikste manier om die groter brandstoftenk te huisves, is om die motor langer te maak en al die 2010-motors se asafstand is sowat 15 cm langer as verlede jaar s’n. Dit sal die motors effens moeiliker maak om te hanteer (’n limousine gaan nie so maklik deur ’n draai soos ’n Mini nie) en die jaers sal daarby moet aanpas.
Die motors is almal ook duidelik breër in die area tussen die stuurkajuit en die agteras, terwyl die nuwe McLaren-Mercedes MP4-25 sekere komponente in ’n groter dorsale vin huisves, wat strek tussen die luginlaat bo die kop van die jaer en die stertvlerk.
Die ideale gewigverspreiding – meganies sowel as lugdinamies – is 50-50, maar met die enjin, ratkas en brandstoftenk almal agter die jaer is dit nie so eenvoudig nie.
Groot klem word dus gelê op die ontwikkeling van afwaartse drukkrag in die neusgedeelte van die motor en in dié opsig volg die meeste van die nuwe motors die rigting wat Adrian Newey se Red Bull RB5 verlede jaar aangedui het.
Die neusgedeelte van die nuwe Mercedes W01, Ferrari F10 en Toro Rosso STR5 het ’n duidelike gleuf, hoewel hul breedte en die mate waarin die voorpunt na onder buig, wissel.
Die nuwe BMW Sauber-Ferrari C29 gaan in die teenoorgestelde rigting met ’n pylreguit, plat neus, terwyl die MP4-25, die Williams-Cosworth FW32 en die Renault R30 ’n minder radikale buig in die neus het.
Al die nuwe motors het ’n opmerklik ingewikkelder neusvlerk as verlede jaar.
Nog ’n algemene kenmerk in die 2010-motors is die klem op lugvloei om en oor die stert om die grootste moontlike voordeel uit die enkelvlak-stertvlerk en dubbeldekker-lugverstrooier (“diffuser”) te trek.
Ná die stryery oor die wettigheid al dan nie van dié komponent verlede jaar moes die meeste spanne met ’n kitsoplossing tevrede wees, terwyl hulle vanjaar die verstrooier van die begin deel van hul ontwerp kon maak.
Die bakwerk om die enjin en ratkas wys duidelik op ’n veel stywer verpakking en is só ontwerp om die lugvloei oor die stertvlerk en deur die verstrooier te verbeter.
Soos altyd het nuwe ontwerpuitdagings tot verskillende oplossings gelei en waar die motors in die onlangse verlede feitlik slegs deur hul kleurskema onderskei kon word, is dit nou reeds duidelik dat die Klas van 2010 veel meer individualisties sal wees.
Eweneens, soos altyd, sal dit die pakket (man en motor) wees wat die beste by die nuwe tegniese omgewing aanpas wat vanjaar bo sal uitkom.
* Verwoerd is ’n onafhanklike F1-kenner en geakkrediteerde F1-joernalis. Sy rubriek word op uitnodiging geskryf.
Om met die skrywer in verbinding te tree, op sy weeklikse F1- e-nuusbrief in te teken of vir inligting oor Grand Prix-toere, stuur e-pos na hendrikv@mweb.co.za.
- Die Burger