Nuwe Yaris groot sprong vorentoe
2011-11-17 13:06
Met verkope van meer as 11 000 eenhede net in die eerste ses maande ná sy bekendstelling in Suid-Afrika in 2005 is die Yaris een van Toyota se groot suksesstories.
Dis verstaanbaar, want met die Yaris se vriendelike; selfs speelse voorkoms, gewillige enjins en redelike spesifikasievlakke het Toyota dit reggekry om ’n motor in die B-segment te bied waarin hy die baie belangrike balans vind tussen wat ’n koper kan bekostig en wat ’n koper wil hê.
Met die nuwe Yaris, wat skaars twee maande gelede in Europa bekend gestel is en hierdie week sy buiging in Suid-Afrika gemaak het, het Toyota dié sterk greep net verstewig.
Daar is twee enjinopsies, drie spesifikasievlakke en drie ratkasopsies beskikbaar.
Volgende jaar kan omgewingsbewuste kopers boonop uitsien na ’n hibriedmodel. Kopers wat ’n sedan verkies, gaan waarskynlik nog ’n hele paar jaar moet wag, aangesien die nuwe Yaris volgens die neiging in Europa voortaan net as luikrug beskikbaar sal wees; in driedeur- en vyfdeur-gewaad. Dié mense sal maar verlief met die bestaande Yaris-sedan moet neem.
Die nuwe Yaris se eerste enjinopsie is ’n 998 cc-petrolenjin, wat 51 kW en 93 Nm bied, gekoppel aan ’n vyfspoed-handratkas. Hierdie is ’n deeglik hersiene weergawe van die 1,0-liter enjin wat in die vorige geslag Yaris diens gedoen het en, danksy nuwe suiers en ’n verhoogde drukverhouding, is sy verbruiksyfer met 6% verbeter na 5,1 liter/100 km en sy uitlaatgassyfer is 119 g/km.
Die lopie na 100 km/h is ook ’n raps vinniger teen 15,3 sekondes, terwyl sy topspoed 155 km/h is.
Vir diegene wat effens meer krag nodig het, is daar ’n nuwe 1,33 liter-viersilinder-petrolenjin beskikbaar met 16% meer krag (73 kW) en 3% meer wringkrag (125 Nm), gekoppel aan ’n ses-spoed-handratkas. Hierdie enjin beskik oor verskeie tegnologiese hoogtepunte, wat hoofsaaklik bydrae tot 7% beter brandstofverbruik (5,6 liter/100km) en ’n uitlaatsyfer van 131 g/km. Die versnelling tot 100 km/h neem 11,7 sekondes en sy topspoed is 175 km/h.
Om stedelinge se pendel draagliker te maak is die Yaris ook met ’n nuwe CVT-ratkas beskikbaar, maar slegs gekoppel aan die groter 1,33 liter-enjin.
Die neulerigheid eie aan ’n CVT is duidelik hoorbaar onder harde versnelling, maar hy is ’n juweel in die stadsverkeer.
Wanneer jy wel op die ooppad is, het die CVT boonop die eienskappe van ’n gewone sewespoed-outomatiese ratkas, beheerbaar óf met die rathefboom óf met die stuurwiel-gemonteerde skakelaars. Boonop spog hierdie stelsel met ’n magdom gevorderde beheerstelsels wat help om die petrolverbruik laag te hou. Hierdie model spog met ’n verbruiksyfer van 5,4 liter/100 km en ’n uitlaatsyfer van 125 g/km.
’n Groot deel van die nuwe Yaris se bekendstelling is by Toyota se toetsterrein te Eston gedoen waar die media kon sien hoe deeglik Toyota se voertuie getoets word voordat hulle na die vertoonvloer geneem word.
Daar is ook verskeie hanteringsoefeninge gedoen waarin ons eerstehands die nuwe Yaris se verbeterde hantering kon ervaar in toestande waarin ’n motoris hom (hopelik nooit) op ’n daaglikse basis sal bevind nie.
Die 1,3 liter-topmodelle spog ook met stabili- teitsbeheer (VSC). Alle modelle spog met sitplekke met ingeboude WIL (Whiplash Injury Lessening)-tegnologie en vier lugsakke (bestuurder, passasier, kant), terwyl die topmodelle drie bykomende lugsakke het.
Ek is weer beïndruk deur die 8 se hantering, maar nog meer met die splinternuwe binneruim. Toyota het weggedoen met die sentraal gemonteerde instrumentepaneel (dis nou op die gebruiklike plek agter die stuurwiel) en die tasbare kwaliteit van die binneruim is dramaties beter.
Alles voel fermer waar dit moet en lyk aansienlik moderner as in die uittredende model. Horisontale lyne oorheers en, saam met die sagte plastiek wat mildelik gebruik word, is dié kajuit wêrelde verwyder van sy voorganger s’n.
Die Yaris is voortaan beskikbaar in Xi-, XS- en XR-gewaad, elkeen met ’n indrukwekkende toerustingsvlak. As intreevlakspesifikasie spog die Xi-modelle met elektriese kragstuur, ’n klankstelsel met radio/CD-speler, sokke vir Aux, USB en iPod, sowel as ’n verstelbare stuurwiel met beheerknoppe vir die klankstelsel. Lugversorging is beskikbaar as ’n opsie.
In die XS-spesifikasievlak kom daar elektriese voorvensters by, asook lugversorging en 15 dm.- allooivellings, terwyl die XR-modelle alles en nog wat bykry: misligte, getinte ruite, klimaatbeheer, ’n raakskerm-klankstelsel met Bluetooth-koppeling, elektriese vensters voor en agter en outomatiese kopligte en windveërs, om maar net ’n paar te noem.
Dat Toyota met die nuwe Yaris ’n groot sprong vorentoe gee, is nie te betwyfel nie, maar of hy die pas gaan aangee in die B-segment sal nog gesien moet word. Met twee hande vol ernstige mededingers, insluitende Kia se uitstekende nuwe Rio, is die speelvlak veel gelyker as wat hy dalk in 2005 was.
* Die nuwe Yaris se pryse:
Die goedkoopste model in die reeks is die Toyota Yaris 1.0 Xi-driedeur en hy kos R 124 000.
Die duurste model is die Yaris 1.3 XR-driedeur en hy kos R203 700.
Daar is ’n allemintige 13 modelle in die reeks en hul prys sluit ’n 4 jaar/60 000 km-versienplan, ’n 3 jaar/100 000 km-waarborg en Toyota se padbystandhulp in.
- Beeld