Nuwe Cerato eersdaags op SA paaie
2009-07-27 09:04
Koreaanse voertuigvervaardigers wil ook aan die voorpunt wees met die gebruik van alternatiewe kragbronne om die omgewing ter wille te wees.
Kort nadat Hyundai aangekondig het dat ’n hibried-weergawe van sy Elantra beskikbaar is, het Kia sy Forte, ook die Cerato LPI-hibriedmotor genoem, bekend gestel. Die Forte beskik oor basies dieselfde tegnologie as sy Hyundai-stalmaat.
Maar dis nie net ’n so-so onthulling nie. Die nuwegeslag-Cerato (of Forte, soos dit ook in sommige lande bekend staan) wat op dié sedan geskoei is, kom nog vanjaar na Suid-Afrika. En ja, die reeks sal die eerste keer ’n sportiewe koepee insluit wat die vreemde naam “Koup” sal hê. Koup is natuurlik ’n sinspeling op die Engelse “coupe”, wat die Engelse “koep” uitspreek, teenoor die deftige “koe-py” van Frans.
Die nuwe Cerato behoort teen Oktober in Suid-Afrika te wees, en die reeks sal uit ’n 1.6l- en ’n 2.0l-model (handrat en outomaties) bestaan. Dit is nie seker of die Koup dieselfde tyd hier sal aankom nie. Die hibriedmodel sal egter nie in die afsienbare toekoms hier te kry wees nie.
Kia sê die groep het die afgelope 25 maande ongeveer $180 miljoen (R1.4 miljard) aan die hibriedprojek bestee.
Die resultaat is ’n voertuig wat tot ’n gawe verbruik van 5,6l per 100 km in staat is, danksy die gebruik van hibried-tegnologie en ’n spesiale koolstof-brandstof wat oor laer vlakke van koolstof-uitskeiding as gewone petrol beskik. Die hibriedmodel spog glo met ’n uitlaatsyfer van net 99 g/km.
Die hibriedmotor sal, soos die Toyota Prius, beskik oor ’n petrolenjin en ’n elektriese kragbron wat in tandem saamwerk.
Kia sê sy skoonlug-model het ’n 1.6l-petrolenjin wat op sy beurt aan ’n palwissel-ratkas gekoppel is.
Benewens die tandem-enjins sal die hibriedmodel ’n staan/gaan-stelsel hê wat die enjin aan- en afsluit sodra jy in die verkeer stilstaan. Daar is ook ’n energie-herwinningstelsel ingebou wat kinetiese energie van die remproses herwin waarmee die battery herlaai word.
Die lugvloei rondom die buffers is ook verbeter in vergelyking met die normale vierdeur-Cerato. Die windsleursyfer is van 0,29 Cd tot 0,26 Cd afgebring.
Kia het nog nie spesifieke planne om die hibried-Cerato wêreldwyd te verkoop nie.
- Die Burger