Niks pla, maar Mazda se 6 bedreigde spesie
2010-08-27 08:00
Kaapstad - Hulle word al hoe meer ’n bedreigde spesie. Dis nou groot, gewone sedans sonder ’n prestige-kenteken op die enjinkap – wat nie meer baie gewild onder motorkopers is nie.
Een segment kleiner het die kleintjies só gegroei en vir baie mense groot genoeg geword dat hulle byvoorbeeld eerder die Mazda 3 as die Mazda 6 aanskaf. Voeg by dat die kleineres ook al die speelgoedtjies kry wat oop en toe kan maak en in baie gevalle dieselfde kragbronne.
Só, uit eie geledere kelder die kleintjies die grotes en dan is ons nog nie eens by die veeldoelers en oorkruistipe voertuie wat ook ’n aantreklike alternatief vir die groot sedan is nie.
En of dit nie genoeg is nie, kan jy in sommige gevalle (veral met die duurder, groter sedans) van die kleiner Duitse sedans koop wat net soveel meer snobwaarde het as ’n groot, Japanse sedan.
Nog ’n hou wat tref en seermaak is die feit dat weens die groter sedans se groeiende massa as gevolg van toerusting en veiligheidsvereistes, is verrigting in baie gevalle oninspirerend. Soos ’n bikini-model met ’n oorpak aan.
Ná dié houe kan gevra word of daar nog ’n rede is om ’n kar soos die Mazda 6 2.0 Active aan te skaf?
Wel, nie regtig nie. Eerstens is daar die ander keuses in die Mazda-stal soos die uitstekende Mazda 3 en die Mazda 5.
Gelukkig is die Mazda 6 met rondings soos dié van ’n goeie FHM-model baie mooi en juis dáárin lê tog ’n sekere bekoring.
Daar ís nog ’n vraag na dié soort rygoed, al is dit beperk.
Mazda se slanke 6 is reeds ’n tydjie met ons en het aan die begin van die jaar ’n opknapping ondergaan.
Ons het pas ’n tydjie agter die stuur van die 2.0 Active deurgebring.
Wat is nou anders? Die modelreeks is verander – nuwe buffers voor en agter; nuwe lighulse; en die sierrooster lyk anders.
Binne is geringe kosmetiese veranderings aangebring en die veerstelsel het ’n bietjie aandag gekry vir ’n beter ritgehalte; sonder om vasvoetigheid in te boet. Die stuur is ook vir meer gevoel aangepas.
Onder die enjinkap is dit Mazda se bekende 2 liter-kragbron wat 108 kW en 184 Nm lewer. Nie aardskuddend nie.
Deur die ratkas met sy goeie skakelaksies kan jy jou verbeel die wa is haastig as jy hom roer. Die enjin is nie mal oor baie hoë toere nie, maar gelukkig is klankdemping goed.
Om eerlik te wees, daar is niks wat werklik gepla het aan die bestuurservaring nie. Ek dink steeds die kontroles en skakelaars is nie die gebruikersvriendelikste nie, maar tog funksioneel. Die pedale, ratkas en stuur werk goed saam en in die stad of op die oop pad is dit ’n gemaklike voertuig.
Die ritgehalte is goed – nie te stamperig op selfs slegte paaie nie.
Die hantering is ook goed – veilig en voorspelbaar soos net ’n groot, voorwielaangedrewe sedan met min krag kan wees.
Daar is steeds die kragtiger 2.5 liter-model wat meer oemf en nog ’n paar ekstra luukses het.
Van luukses gepraat. Die Active is nou die tweede model in die reeks, met die Original wat die intreevlakmodel is. Die 2.5-liter is die Individual.
In die Active is daar onder meer ’n klankstelsel met ses luidsprekers en wat 6 CD’s kan huisves; leer vir die stuurwiel en ratknop; elektriese verstelling met geheue vir die bestuurder se sitplek; 17 dm.-allooivellings; spoedbeheer; en satellietkontroles op die stuurwiel.
Daar is niks wat werklik gepla het aan dié model nie.
Die probleem is dat daar nie veel is wat hom kop en skouers bo mededingers soos die Honda Accord en Volkswagen Passat laat uitstaan nie.
3,5 uit 5


In baie opsigte het die Mazda?6 ’n tydlose voorkoms en hy lyk altyd vars en nuut danksy die vloeinde lyne en ronde hoeke.

Die netjiese binneruim en instrumentpaneel.