MyCiTi se wiele rol, maar kritici lol
2011-05-10 08:59
Kaapstad - Dan Plato, Kaapse burgemeester, het Maandag met mening gekap na kritici wat meen die nuwe MyCiTi-busdiens bedien net rykmanswoonbuurte.
“Ons kan nie net jaar ná jaar mense se belastinggeld vat nie. Die MyCiTi-Weskusroete is met dié mense se belastinggeld gebou. Hul belastinggeld help ook in armer gebiede,” het hy gesê.
Plato was Maandag aan boord toe die eerste amptelike MyCiTi-bus se wiele op die nuwe Weskusroete van Table View na die burgersentrum gerol het.
“Daar word baie gesê oor die Weskusroete wat gegoede woonbuurte bedien. In Khayelitsha en Elsiesrivier is daar reeds trein-, bus- en taxidienste. Dit maak sin dat die MyCiTi-diens op die Weskusroete loop,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg kritici moet na die groter prentjie kyk. Die Weskusroete word verder verleng na gebiede soos Dunoon en Doornbach.
“’n Gesonde openbare vervoerstelsel is op die Weskus nodig om die ekonomiese groei te ondersteun en die ál groter wordende verkeersknope te bekamp.”
Plato het ’n beroep gedoen op die gemeenskappe van Table View, Milnerton en ander Weskus-woonbuurte om die busdiens te gebruik, “anders gaan dit net ’n wit olifant wees”.
Met Maandagoggend se historiese rit het motoriste in Otto du Plessis-rylaan – in die meeste gevalle een-een in hul voertuie – behoorlik die koppe gedraai om die MyCiTi-bus te bekyk.
Die busbestuurder, Suleiman Abrahams (52) van Hanover Park, het gesê sy maag draai ietwat van al die spanning van die eerste rit, maar dit is vir hom ’n groot voorreg om deel te wees van die nuwe proses.
Abrahams was ’n busbestuurder by Golden Arrow, een van drie operateurs wat die MyCiTi-Weskusroete asook die binnestedelike roete vir die eerste jaar gaan bedryf.
Die MyCiTi-busse ry tot Vrydag tussen 09:00 en 15:00 uurliks op die hoofroete tussen die burgersentrum in die middestad en die Table View-bushalte, maar stop nie by die haltes tussenin nie.
Saterdag word die volle hoofroete in werking gestel, asook die volle skedule en die tussentydse binnestedelike roete tussen die Tuine, die burgersentrum en die Waterfront. Kaartjies is by die bushaltes te koop.
Kinders onder vier jaar ry gratis en daar is geen ekstra koste om jou fiets op die bus te laai nie.
- Die Burger