Motors gaan praat om ongelukke te keer
2011-09-14 12:40
Amerika – Tegnologie wat motors toelaat om met mekaar te praat en sodoende ongelukke verhoed gaan in Amerika uitgetoets word, het Technology Review op hul webwerf berig.
Dít kom nadat die departement van vervoer in Amerika aangedui het hulle sal toetsing van dié nuwe tegnologie befonds.
Baie motors kom reeds standaard met sensors wat voertuie in die bestuurder se blindekol kan raaksien, of die bestuurder in kennis stel wanneer hy/sy buite hul bane ry.
Dié tegnologie het egter ‘n beperkte sig.
Motor tot motor-kommunikasie kan meer doeltreffende waarskuwings gee en sal die bestuurder byvoorbeeld kan waarsku indien ‘n motor, ‘n paar meters vorentoe, skielik rem.
Daar word verwag dat 80% van ernstige ongelukke met behulp van dié nuwe tegnologie verhoed kan word.
Die tegnologie sal in verskeie situasies getoets word soos om ‘n bestuurder in te lig wanneer dit onveilig is om ‘n ander motor verby te steek en wanneer ‘n motoris op pad is na ‘n kruising teen ‘n hoë spoed wat ‘n ongeluk kan veroorsaak.
Elke motor sal toegerus word met ‘n radio wat seine van spoed en rigting sal kan uitstuur.
– Volg Nuus24 op Twitter.