Motoriste, het jy dít geweet?
2011-07-26 07:00
Johannesburg – Is jou motor minder as vier jaar oud?
Dan kan jy met R500 beboet word as jy nie ’n nooddriehoek in sy kattebak het nie.
Dié regulasie geld vir alle motors wat ná 1 Julie 2007 vir die eerste keer geregistreer is.
Volgens sr.supt Alta Fourie, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, is dit verpligtend ingevolge regulasie 214 van die Padvervoerwet dat voertuie wat die eerste keer ná hierdie datum geregistreer is ’n weerkaatsende driehoek moet hê.
Die enigste voertuie wat van dié bepaling uitgesluit is, is ambulanse, motorfietse, motordriewiele en kwadfietse.
Goedere-voertuie, minibustaxi’s en busse wat voor 1 Julie 2007 vir die eerste keer geregistreer is, moet ten minste een nooddriehoek hê.
’n Pretoriase vrou is Vrydagaand in Zambesirylaan, Pretoria, afgetrek en die metropolisie-beampte het haar nie eers gevra wanneer haar motor geregistreer is nie.
Verskeie metropolisielede het by navraag gesê hulle is nie bewus van die bepaling nie. Die gevolg was dat sy verkeerdelik ’n boete vir haar 2005-model gekry het en nou eers vertoë moet rig.
Die regulasie bestaan reeds lank en is net aan die begin van die jaar ten opsigte van die grootte van die nooddriehoek gewysig, het Fourie gesê.
Die nooddriehoek moet óf uit rooi weerkaatsende materiaal gemaak wees, óf rooi geverf wees met weerkaatsers in elke hoek en minstens 30 cm x 30 cm groot wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld