Motoriste dalk rybewyse kwyt oor lasbriewe
2012-06-22 11:46
Kaapstad – Motoriste met uitstaande lasbriewe sal binnekort nie meer toegelaat word om hul rybewyse te hernu of voertuie in hul naam te registreer nie, het Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer, gewaarsku.
Die nuwe stelsel, Admin Mark, sal motoriste met uitstaande lasbriewe toegang tot enige eNatis-diens, insluitend die verkryging van 'n lisensieskyf of padwaardigheidsertifikaat, verbied, berig die Cape Times.
Die Admin Mark sal op die eNatis-rekord van enigeen met 'n uitstaande lasbrief vir 'n verkeersoortreding in die Wes-Kaap geplaas word.
Lasbriewe word slegs uitgereik wanneer 'n verkeersboete nie betaal is nie en die eienaar versuim om op die gegewe datum in die hof te verskyn.
"Die Admin Mark sal beteken dat jy sonder 'n geldige rybewys of voertuiglisensie kan sit, wat dalk nadelig kan wees vir die lewensbestaan van jou of dié van jou gesin," het Carlisle gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter