Moet A8 nie op baadjie takseer
2010-11-05 04:24
Dit is die stryd tussen die groot kanonne. Hiér is elke skoot ’n donderslag.
Die vraag is wie elke keer raak skiet en wie mis die teiken?
Ek praat hier van die Audi A8 vs. die Mercedes-Benz S-klas vs. die BMW 7-reeks. En moet tog nie Jaguar se XJ en Lexus LS vergeet nie.
Maar primêr is die stryd tussen die Duitse trio, en die groot kanonne versinnebeeld dit wat die vervaardigers al bereik het en waarheen hulle op pad is.
Wat op hierdie vlak gebeur, syfer deur na die ander vlakke toe. Hier praat ons van tegnologie, styl, gehalte, veiligheid en toerusting.
Kyk ons bloot na verkoopsyfers wêreldwyd is die S-klas die een met die meeste trefslae, gevolg deur die 7-reeks en ’n entjie verder in die derde plek die A8.
Maar met elke nuwe generasie word die A8 beter, koes hy al hoe vinniger en – jip – begin ook om voltreffers af te vuur.
Die derde-generasie-A8 het onlangs sy Suid-Afrikaanse buiging gemaak en gee nuwe betekenis aan die Engelse uitdrukking “looks could be deceiving”.
Kom ek stel dit eenvoudig: Die nuwe A8 is stileringsgewys eintlik ’n teleurstelling omdat dit bloot soos ’n opgeblase A4 of A6 lyk. Daar is nie genoeg onderskeid tussen die A8 en sy kleiner broers nie, na my mening altans.
In teenstelling hiermee is die S-, E- en C-klasse van Merc duideliker onderskeibaar, elk met ’n meer eiesoortige identiteit. Dieselfde geld BMW.
As ’n S-klas in ’n parkeerterrein staan, sien jy dit raak. As ’n 7-reeks in ’n parkeerterrein staan, sien jy dit raak. As ’n (nuwe) A8 in ’n parkeerterrein staan, moet jy baie mooi kyk om dit raak te sien.
Maar laat ek nie die kêrel op sy baadjie takseer nie. Dalk nie liefde met die eerste oogopslag nie, maar boeta, onder daar die vaal vel is die A8 nou nader as ooit aan die S en die 7.
Eerstens is daar die ritgehalte. Die A8 suig nie meer aan die agterspeen nie, en ek sal my kop ’n blok sit dat as die S-klas hier ’n 9 uit 10 is, die A8 ’n 8,5 uit 10 is.
Hanteringsgewys kan die A8 lankal saam gesels, en hoofsaaklik danksy sy Quattro-vierwielaandrywing is die voertuig net makliker om teen spoed deur ’n draai in en uit te seil. Dalk het die agterwielaangedrewe 7 meer van ’n voordeel in die korter draaie waar die vierwieldrywers soms geneig is om te vinnig stuurtraag te raak.
Die punt is in die klas wil jy eerder ’n gehalte rit hê, verwyder van stampe en stote en meganiese geluide wat die kajuit binnedring. Daarin slaag die A8 nou beter as ooit. Dat hy ’n eersteklas-hanteerder is, is bloot ’n bonus.
Deel van die verfynde rit is die goeie demping van klank uit die kajuit. Jy hoor die V8-enjin grom omdat jy dit wil hoor. Band-, pad- en windgeraas is uitstekend beperk. Jy voel soos ’n miljoen rand binne in die A8 en dit is goed so, want dis wat hy jou uit die sak gaan jaag!
En alhoewel jy ’n limo-soort rit in die A8 het, is die wa nie so ontwerp asof jy heeltyd agter gaan sit en koerant lees en met ’n chauffeur agter die stuurwiel nie. Dit kan die A8 goed doen, maar jou plek, as die een wat die baie geld aan die ryding bestee het, is agter die stuur, die plek om te wees.
Die uitleg en funksionaliteit van die instrumentasie is werklik eersteklas alhoewel die elektroniese skryfblok linkerstuur-motors met bestuurders wat regshandig is beter pas.
Die skryfblok is waarskynlik deur ’n apteker ontwerp want hy kan lelike linkerhand-gekrabbel ontsyfer.
Jy gebruik dit as jy nie van die MMI-beheerstelsel wil gebruik maak om byvoorbeeld ’n adres aan die satellietnavigasiestelsel deur te gee of as jy dit nie via stemopdragte wil doen nie.
Redelik sinneloos? Dalk, maar dis daar en ontgin nuwe moontlikhede.
Wat die res betref, is al wat ’n luukse is daar, en die sitplekke is uiters gemaklik. Ruimte is uitstekend.
Die nuwe A8 is langer en breër as sy voorganger en sy huidige mededingers en tog ’n fraksie laer as die mededingers. O ja, die A8 is ook ligter as mededingers en soos sy voorganger is die gebruik van ’n aluminium-buisraamwerk vir die bakstruktuur die ideale gewig-bespaarder, terwyl dit ook sterker as die tradisionele metale is.
Die bagasieruim is ’n stewige 510 liter, sowat 10 liter meer as voorheen, en volgens Audi ook beter as dié van sy mededingers.
Die bagasieruim lyk met die eerste oogopslag nie so groot nie aangesien die ruimte verkort is, maar dit is nou breër en hoër.
Die 4,2 liter V8 (273 kW/445 Nm) wat aan ’n agtgang- outomatiese ratkas gekoppel is, is werklik ’n juweel.
Sonder om in die tegniese details oor die kragbron te verval kan ’n mens maar net sê dat sy vinnige, uitstekende kraglewering en die soepelheid van die enjin tot anderkant die rooilyn voorwaar iets is om te ervaar.
’n Ewe voortreflike V8-diesel-enjin sluit hom binnekort by die reeks aan, asook twee sessilinder- diesels wat die A8 meer bekostigbaar sal maak.
Met ’n versnelsyfer tot by 100 km/h in minder as 6 sek. kan jy (en die ou in die GTI of enige ander sogenaamde blitsbuks langs jou) jou lelik misreken met hoe vinnig die groot Audi is.
Die probleem is dat met die groot ryding en die byna geïsoleerde gevoel wat jy aan die binnekant ervaar, jy nie dadelik besef hoe vinnig jy ry nie.
Jy sal dit wel by die volgende verkeerslig agterkom as die blitsbuks-bestuurder minder vriendelik lyk as ’n verkeerslig of wat gelede.
As jy alles wil hê, maar dit moenie opvallend wees nie, is die A8 die een.
Ek reken tog dat in die klas dit nie ’n kwessie is dat jy net gesien wil word nie, maar indien iemand kyk, moet hulle weet jy poer-poer nie in die lewe nie.
Briljante motor, maar wie gaan dit weet?…
Audi se nuwe A8 is hier, voortreflik in alle opsigte buiten die sigbare.
Veral van agter is die nuwe A8 net te na aan die A6 en die A4.
Niemand kan binneruime inrig en bou soos Audi nie.
Die instrumentasie en uitleg is eersteklas soos mens net van Audi kan verwag.