Mini duurste om te diens
2012-07-12 12:12
Johannesburg – Die kleine Mini is die duurste motor om te diens in Suid-Afrika, wys navorsing van RGT Smart, 'n navorsingsmaatskappy in die motorvervaardigingsbedryf.
Die Audi is kort op die hakke van dié klein motortjie.
Volgens die maatskappy se navorsing kan jy ‘n Mini teen gemiddeld R602,27 per uur laat diens en ‘n Audie teen sowat R583,62.
Die navorsing het na die arbeidskoste vir werk aan passasiersvoertuie oor verskeie handelsmerke, verskillende provinsies en verskillende stede gekyk.
Die navorsing wys ook dat die Vrystaat die goedkoopste provinsie is om jou motor te laat diens.
Om ‘n BMW te laat diens sal jou gemiddeld R580,13 per uur uit die sak jaag terwyl ‘n Lexus jou gemiddeld R579,09 sal kos.
Die goedkoopste voertuig om te diens is ‘n Chana, wat jou gemiddeld R342,52 per uur sal kos, terwyl Mahindra die tweede goedkoopste is teen R362,29 per uur.
“Voertuie se dienskostes styg gemiddeld met 4,1% per jaar,” het Paul de Vantier, uitvoerende hoof van RGT Smart, gesê.
Fiat se dienskostes het die meeste gestyg oor die afgelope jaar, met 16,3%, terwyl die dienskostes van Alfa Romeo (12,2%) en Citroën (11%) ook aansienlik verhoog het.
Handelsmerke wie se dienskostes gedaal het sluit in Changan (-10,5%), Subaru (-5,5%) en Daihatsu (0,6%).
De Vantier het bygevoeg dat ‘n groot of medium voertuig in Gauteng die meeste kos om te diens, terwyl kleiner voertuie heelwat goedkoper is.
In die Wes-Kaap is ‘n medium-grootte voertuig die duurste om te diens.
“Van al die medium-grootte motors is BMW die duurste om te diens, terwyl Volvo die goedkoopste in dié klas is.”
Die Noord-Kaap se dienskostes het die meeste per jaar gestyg (10%) terwyl die Noord-Wes in tweede plek is met 9,5%.
Die provinsie met die kleinste styging in dienskostes is die Vrystaat, met 2.8%.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA