Min boetes vir Oos-Kaapse motoriste
2010-01-22 13:20
Johannesburg – As jy 'n spoedvraat is en in die Nelson Mandela-baai area bly, moenie jouself bekommer nie – plaaslike verkeersbeamptes het minder as 'n boete per dag uitgedeel in die afgelope finansiële jaar.
Volgens The Herald Online is dié hoeveelheid boetes beduidend minder as die nasionale gemiddeld van 10 boetes op 'n dag.
Metropolisie-spanleier Trish Armstrong het Dinsdag in 'n vergadering met die begroting- en tesourierskomitee onthul dat die 93 verkeersbeamptes in die stad minder as een boete op 'n dag uitgereik het.
Dit terwyl talle verkeersbeamptes oortyd betaling geëis het, en na bewering soveel as 18 uur 'n dag vir 30 agtereenvolgende dae gewerk het.
Armstrong het aan die komitee gesê dit is "biologies onmoontlik".
Sy het bygevoeg dat slegs 28 persent van spoedlokvalle tans in werking is.
Die munisipaliteit sukkel ook om sowat R99 miljoen se uitstaande verkeersboetes in te win.
–Sapa