Merc se E63 AMG ’n blitsige motor
2009-11-20 10:26
Kaapstad - Die Mercedes E-klas is ’n deksels goeie motor, maar daar is in sekere geledere ’n sekere stigma wat aan die motor kleef.
“Nee, man, dis ’n ou toppie se kar” of “Dis seker elke mielieboer se droom” is van die kwinkslae wat deur die jonger manne in hul warm luikrûe en 3-reeks-BMW’s na Merc se kant geslinger word.
Maar voeg nou die drie towerletters “AMG” agter die naam en skielik wens die manne hulle kan net soos die mielieboere hul drome bekostig. Want nou sit die ou toppie met die wêreld se kragtigste normaal geaspireerde enjin, ’n handgeboude aluminium-V8 van 6 208 cc, onder sy enjinkap en grynslag vir die jong klomp.
Dit is nie om dowe neute dat dié stookoond vanjaar as die verrigting-enjin van die jaar aangewys is nie.
Dit skop 386 kW uit, maar die wringkrag van 630 Nm is selfs nog indrukwekkender. Die E63 AMG draf binne 4.5 sekondes van ’n stilstaande posisie tot 100 km/h, en sy topspoed is beperk tot 250 km/h.
Betaal vir die Merc-manne ’n ietsie ekstra (hulle noem dit die AMG-bestuurderspakket vir net R21 000) en jou topspoed word eers dan op 300 km/h beperk. Lekker vir die dag as jy jou blou lig op die dak kan plak en soos ’n Julius “Caesar” Malema jou ryk wil verken.
Hoewel die enjin kragtiger as sy voorganger is, is sy brandstofverbruik minder. Mercedes beweer sy gemiddelde verbruik is 12.6 F per 100 km. Gewone sterflinge gaan maar sukkel om by daardie syfer uit te kom.
Mercedes-Benz het vroeër jare die wind van voor gekry oor sy outomatiese ratkaste wat in sy verrigtingmotors effe aan die trae kant was. Maar deesdae gaan jy sukkel om fout te vind met die sewespoed-AMG Speedshift-kas in ’n motor soos die E63.
Dit is grootliks te danke aan die vier verskillende bestuursmodusse wat die ratkas jou bied. “C” is vir gerief, en die oorskakeling is vroeg en glad. “S” is vir sport, en die oorskakeling vind nou vinniger en teen 20% meer enjinkrag plaas, terwyl “S+” nog vinniger en met ’n nog hoër enjinspoed plaasvind.
As jy regtig wil speel, moet jy die beheerknop na “M” draai. Jy is nou in beheer en wissel ratte met die twee spane wat links en regs op die stuurwiel gemonteer is. Elke oorskakeling vind nou binne 100 millisekondes plaas, en hy sal sy rat hou, al slaan die toereteller teen die beperker vas.
Dit is juis die vermoë om tussen gemaklik en sportief te kies wat die E63 AMG laat uitstaan. So kan die bestuurder ook die gehalte van sy rit beheer deur tussen drie veringmodusse te kies.
Weer is daar ’n “C”, “S” en “S+” sodat jou rit gemaklik op die langpad met sy baie slaggate of dinamies in die bergpas kan wees.
Van bergpasse gepraat: Mercedes het die Kyalami-renbaan in Gauteng gekies om die motor bekend te stel – waarskynlik om te bewys dat die motor nie net ’n vuurpyl op ’n reguit stuk pad is nie, maar dat dit ook deur die esse sal klou.
Op ’n dag waarop die weerlig by tye hard en naby geslaan en dit gesous het, het die groot Merc met sy padhouvermoë sy stempel afgedruk.
Weereens kan jy met die stabiliteitsbeheer rondspeel en dit selfs heeltemal afskakel as jy nou regtig waansinnig is of ’n baie goeie bestuurder is wat ’n renbaan in jou agterplaas het. Ons beveel dit nie aan nie, veral nie op ’n nat pad nie.
Toe Kyalami uitgedroog het en ons die motor behoorlik vrye teuels kon gee, het die uitstekende remme en die driehoekige dans tussen stuur, versneller en vering werklik beïndruk.
Die E-klas is myn insiens nie die mooiste Merc op die pad nie, maar die AMG- plastiese snykunde aan die voorbuffer en die agter-lugskort, sowel as nuwe bakskorte en vlerke asook die 18-duim-AMG-wiele laat hom beslis uitstaan.
Binnelangs is die AMG-invloed subtieler. Ja, die AMG- sportsitplekke lyk anders, die stuurwiel is ’n vierspeek-AMG- ontwerp met ratspane, en die ratkierie sal jy net in ’n AMG-model kry. Die instrumentpaneel is eie aan AMG-motors, en die pedale is van geborselde vlekvrye staal.
Die res van die binneruim is standaard-E-klas, maar wie gaan daaroor kla?
Suid-Afrikaners hou van hul AMG’s. Ons is die vyfde grootste mark ter wêreld vir die baie spesiale Mercs, en volgens Eckart Mayer, Mercedes-Benz SA se streekbestuurder, is vanjaar se besending E63’s reeds uitverkoop.
’n Nuwe jaar is net om die draai, en daar is nog op pad hierheen. Mercedes verwag om volgende jaar ’n “driesyfergetal” E63’s te verkoop.
Dus, as jy hou van ’n sportiewe vuurpyl wat jy ook elke dag as ’n groot gesinsmotor kan gebruik, en jy het R1,150 miljoen wat ’n gat in jou sak brand, gaan die E63 AMG jou oog tref. Gooi mielies.
- Die Burger