Man kry gesteelde motor ná 42 jaar terug
2012-07-16 09:46
Los Angeles – 'n Man van Texas wie se gesogte sportmotor 42 jaar gelede gesteel is, het sy motor teruggevind nadat dit te koop aangebied is op die veilingwebwerf eBay, het owerhede gesê.
Robert Russel en aan die polisie in Los Angeles gesê hy het nooit moed verloor tydens die soektog na die 1967 Austin Healy nie. Die motor is in 1970 by sy huis in Philadelphia gesteel.
Die afgetrede 66-jarige verkoopsbestuurder van Southlake het aan die Dallas Morning News gesê hy het 'n vriend $3 000 (sowat R24 000) vir die motor betaal. Dit het sentimentele waarde vir hom omdat die motor die oggend nadat hy sy toekomstige vrou op hul tweede ete-afspraak geneem het, gesteel is.
Russel het gesê hy het jare lank op die internet gesoek vir die motor.
"Die feit dat die motor nog bestaan is onwaarskynlik. Dit is of skroot of verwoes."
Russel het gesê hy het gereeld op eBay ingeteken en het sy motor 'n paar weke gelede gesien. Hy het toe onmiddellik die motorhandelaar in Beverly Hills, wat die motor verkoop het, gekontak.
Hy het gesê die motor se identifikasienommer het ooreengestem met dié van sy motor. Russel het steeds die oorspronklike sleutel en die koopdokumente gehad, maar nie 'n bewys van die verslag dat die motor by sy huis gesteel is nie.
Russel het daarna by die polisie in Philadelphia aangeklop om hulp en is in kennis gestel dat die verslag nie op die FBI se nasionale misdaadindeks verskyn nie, omdat die identifikasienommer verkeerd ingedruk is. Die verslag is uiteindelik opgespoor en geaktiveer. Dít het toe die owerhede in Los Angeles in staat gestel om die motor te skut.
Russel en sy vrou, Cynthia, het toe na Los Angeles gereis om die motor te gaan haal. Die motor is nou $23 000 (sowat R190 000) werd.
"Dit (die motor) loop nog, maar die remme werk nie so goed nie. Ons gaan dit herstel soos wat dit was."
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP