Loeb-loop byna onstuitbaar
2010-04-22 13:37
Die Loeb-loop (om Robbie Wessels se “Leeuloop” te leen) is nou behoorlik op spoed.
Die Fransman en WRC-kampioen Sebastien Loeb het dié naweek die Turkse tydren met amper ’n minuut se gaping gewen en sodoende sy voorsprong aan die bopunt van die punteleer nog verder gerek.
Dit was die C4-jaer se derde sege na mekaar vanjaar nadat hy in die openingsren in Swede tweede geëindig het.
Met Petter Solberg (private Citroën C4-inskrywing), wat verrassend tweede geëindig het, en Mikko Hirvonen (Ford Focus) in die derde plek is Loeb (93) se voorsprong op die punteleer nou ’n massiewe 40 punte voor Solberg (53), die voormalige kampioen. Hirvonen is net-net derde met 52 punte.
Dit was egter ’n moeilike ren wat die jaers nie gou sal vergeet nie. Swaar reën oornag het toestande op die grondpaaie uiters moeilik gemaak, met talle jaers wat óf ’n paar plekke op die wegspringlys afgestaan het weens ongelukke óf selfs hul motors afgeskryf het.
Solberg was aanvanklik heel voor, maar die ervare Loeb het hom stelselmatig ingekatrol en later verbygesteek. Terwyl die Fransman voor gejaag het, het die seepgladde paaie agter hom die een deelnemer ná die ander grond en modder laat eet.
Sondag se beplande ses skofte moes skielik tot slegs twee verminder word nadat die toestande te gevaarlik geraak het. Tog het Hirvonen steeds in die een draai te vinnig gejaag, sy motor dwars oor die modder laat gly en ’n rots getref. Dit het hom ’n pap wiel besorg, wat hom ’n minuut of wat gekos het.
In sy poging om die verlore tyd in te haal, het die teëspoed hom egter weer getref. Die pap wiel se buiteband het begin lostrek, waarna dié los stukke die binneste omhulsel van die wielruim aan flarde geslaan het.
Dit het veroorsaak dat stof en modder in die motor ingekom het en die Focus se verrigting verder belemmer het.
Daar was darem ’n bietjie geluk ook vir die Fin. Loeb se spanmaat, Dani Sordo, het in ’n smal draai van die pad af gegly en sy motor se voorste vering heeltemal gebreek.
Met die C4 wat reg in die middel van die pad op ’n draai gestaan het, kon ’n ongeluk met sekerheid voorspel word. ’n Rits motors het agter in Sordo vasgejaag, wat Hirvonen skielik weer tot in die derde plek laat opskuif het.
’n Ander gelukkige wenner uit Sordo se teëspoed was die voormalige F1-kampioen Kimi Räikkönnen: Die Fin het vyfde geeindig; sy beste plek nóg in ’n WRC-ren.
Die volgende byeenkoms is die Nieu-Seelandse tydren op 7 Mei. Dié ren is een van die vinnigstes op die kalender wanneer dit droog is.
Die voorperd in die weddenskap is seker Loeb, maar met die puik vermoë wat die private jaer Solberg skielik toon, is ’n verrassing nie onmoontlik nie.
- Beeld