Kleiner motors prominent op Yank-skou
2010-01-15 12:43
Pierre Steyn
Detroit - Vanjaar se Detroit-motorskou hier in die hartland van die Yanks se motorbedryf is so on-Amerikaans soos kan kom.
Rig jy jou aandag net op die motors wat vanjaar hier die aandag trek, sou jy sweer jy is in Frankfurt of Genève pleks van Motown.
Die V8-petrolsuipers en reusagtige sportnutsvoertuie van die verlede is deur die uitmergelende resessie en wipplank-brandstofprys van die verhoog afgeskop om vir klein motors plek te maak.
Dis motors wat aan ons welbekend is, soos die Ford Focus en Fiesta, die Chevrolet Aveo en Cruze, Volkswagen Golfs, Mini’s en BMW 1-reekse, maar dis volksvreemd vir die Amerikaners. Die groot vervaardigers het ook vanjaar seker gemaak hulle het almal elektriese motors, hibriedmotors en inprop-hibriedmotors.
Die motorwêreld het binne een jaar geweldig verander. Die Amerikaners kyk nou na hul Europese filiale vir hul redding.
Dit maak sin. Die Europeërs het jare se ondervinding om klein motors te bou met klein enjins wat min brandstof gebruik en min koolstofgasse uitpomp, maar wat terselfdertyd met behulp van turbo-aanjaers baie krag uitskop en steeds pret is om te bestuur.
Veral Ford, die oupa van die Amerikaanse motorbedryf, neem in dié opsig die voortou. Sy nuwe Focus, wat in Europa ontwerp is en teen einde volgende jaar in Europa en Noord-Amerika te koop sal wees, word deur Ford se grootbaas, mnr. Alan Mulally, as die belangrikste motor in die maatskappy se onlangse geskiedenis bestempel.
Ja, daar is nog Mustangs en groot Ford 150-bakkies op Ford se verhoog, maar dis die “klein” Focus wat Ford genoop het om al sy streekshoofde van regoor die wêreld hier byeen te roep sodat hulle met een stem “Een Span, Een Plan, Een Doelwit, Een Ford” kon dreunsing.
Vir die eerste keer het Ford uit die staanspoor besluit om een platform te skep sodat hy ’n motor in aanlegte in Amerika, Europa, Rusland en China kan bou wat regoor die wêreld in al sy markte verkoop kan word.
Die Focus-luikrug en -sedan is hier aan die media gewys, en ons kan dié aantreklike motor (ontwerp deur mnr. Martin Smith, wat ook vir die Fiesta verantwoordelik was) teen 2012 in Suid-Afrika verwag.
General Motors, wat hier in Amerika deur bankrotskap in die gesig gestaar is, vestig sy hoop op sy splinternuwe Volt, ’n elektriese motor wat met ’n volgelaaide battery sowat 50?km ver kan ry. Raak die battery pap, is daar ’n klein petrolenjin wat jou reikafstand met nog ’n paar honderd kilometer verleng. Saam met die Volt is die vietse Spark en die Cruze, nou al ’n bekende in ons geweste, vertoon.
Die enigste groot Amerikaanse motorvervaardiger wat nie ’n nuuskonferensie gehou en nuwe motors bekend gestel het nie, is Chrysler. Dat hy nou deur die Italiaanse maatskappy Fiat beheer word, was egter duidelik. Twee Fiat 500’s, ’n Ferrari en ’n Maserati het die ereplekke op die Chrysler-verhoog ingeneem.
In die geheel is vanjaar se Detroit-motorskou ’n ietwat gedempte affêre. Die meeste motorbase slaak openlik ’n reuse-sug van verligting dat ’n moeilike 2009 verby is. “Versigtig optimisties” is die woorde wat die meeste van hulle in hul toesprake gebruik het.
Hulle verwag klaarblyklik ook dat motors in die toekoms elektries sal wees, hoewel niemand 100% seker is wat die ideale elektriese oplossing is nie.
Dit is opmerklik dat twee van die ander sterre van die skou (tot 24Januarie aan die gang), Honda se dinamiese nuwe CR-Z-sportkoepee en Volkswagen se pragtige kompakte koepee (Compact Coupe), hibriedmotors is.
- Die Burger