Jeep Grand Cherokee - ‘n Gróót stap vooruit
2011-10-04 13:28
Kaapstad – Die nuwe Jeep Cherokee is ’n reusestap vorentoe vir hierdie ikoniese Amerikaanse maatskappy. Maar dis nie asof hy veel van ’n keuse gehad het nie, sê Jaco Kirsten van Weg/Ry.
Die storie van Jeep is die storie van die moderne Amerikaanse motorbedryf: Vir té lank het hulle hulself oortuig dat hulle rygoed “eintlik nogal oukei is”.
In ’n geslote mark het dit vir dekades gewerk. Totdat die Japannese en Duitsers ’n groter en groter deel van die mark in Amerika begin vat het met beter produkte.
Die ding is, mense is nie dom nie. Jy kan net só lank op jou landgenote se patriotiese sentimente staatmaak voor hulle lont ruik. En die Yanks het hul bes probeer met rygoed met name soos die Patriot, Compass en Liberty. Dit herinner sterk aan name soos ’n Chev Impala, Chev Kommando en Springbok-sigarette. En almal weet wat van húlle geword het.

Chrysler, Jeep se moedermaatskappy, het die afgelope paar jaar amper finansieel in die hek geduik. Nes General Motors wat op sy dag die wêreld se grootste motorvervaardiger was. Maar gelukkig lyk dit of Fiat se finansiële inspuiting Chrysler se sake geswaai het.
Fiat se grootbaas, Sergio Marchionne, ’n Kanadees van Italiaanse afkoms, het Fiat ’n paar jaar gelede reggeruk het. Voor dit het hy Boeing ook sommer onder die jis geskop.
Enigiets is dus moontlik vir Marchionne en sy span. Fiat het ook net betyds in die prentjie gekom, want sonder geld kan jy nie goeie nuwe produkte ontwikkel nie. En sonder goeie produkte... wel, dis soos om by ’n skietgeveg in ’n Wilde Weste-kroeg op te daag met ’n leë whiskeybottel in jou hand.
– Vir meer inligting besoek Weg/Ry.
– Volg Nuus24 op Twitter.