Italiaanse motorfietskoning sterf
2011-08-26 10:04
Rome – Die Italiaanse motorfietsmagnaat en die hoof van MV Agusta, Claudio Castiglioni, is Donderdag in Varese, Italië dood na ‘n stryd teen kanker.
Castiglioni (64) was die stigter van Cagiva, die voormalige eienaar van Ducati en die man wat MV Agusta uit die sloot terug op die saal gehelp het.
Hy word beskou as die man wat die Italiaanse motorfietsbedryf tot die beste ter wêreld gedryf het.
Hy was onder andere aan die stuur met die vrystelling van motorfietse wat aanhangers na hul asem laat snak – beeldskone ysterperde soos die Ducati 916, die MV Agusta F4 en die komende F3.
Na hy Cagiva in 1978 gestig en suksesvol bestuur het, het hy sy grootste stap geneem en Ducati in 1985 oorgekoop.
Dié rooi jaagmasjien se 916- en 851-modelle het tydens Castiglioni se tyd as hoof die World Superbike Championship oorheers.
Castiglioni het onlangs die bestuur van sy motorfietsstal aan sy seun Giovanni oorgegee.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.