Hy eis R64 000 oor gebruikte kar skade het
2012-02-03 09:03
Pretoria – ’n Pretoriase man eis ongeveer R64000 van ’n gebruiktemotorhandelaar nadat die voertuig wat hy gekoop het glo skade van duisende rande gehad het.
Tog sê Prima Inspectacar van Wonderboom-Suid Rolius Smit het die Nissan Pathfinder 2.5 dCi voetstoots gekoop.
Die twee partye het Donderdag swaarde in ’n siviele geding in die Pretoriase landdroshof gekruis.
Smit het die voertuig op 29 Augustus 2008 gekoop. Die handelaar het dit op 5 September 2008 vir ’n padwaardigheidstoets na die AA gestuur. Die voertuig is 100% reg verklaar.
Kort daarna het Smit gevind dat die voertuig se padhouvermoë swak is. Smit moes betaal vir herstelwerk aan onder meer die onderstel, stabiliseerder, die vellings en die wielsporing.
Volgens hom het die handelaar hom nie oor dié skade ingelig nie. Smit het ’n deskundige gekry om die voertuig te ondersoek.
Johan Bekker, ’n meganiese ingenieur, het in sy ondersoek bevind dat die Nissan voorheen gesteel en teruggekry is.
Luidens sy verslag was drie van die voertuig se bande, waaronder die noodwiel, van verskillende groottes.
“Die voertuig het ’n geweldige impak op die onderstel onder die enjin gekry,” het Bekker gesê.
Dit blyk volgens hom die AA het minder as ses maande vantevore, voordat Smit die voertuig gekoop het, ’n padwaardigheidstoets op die Nissan gedoen.
Kragtens wet was dié padwaardigheidsertifikaat steeds van krag en was dit nie nodig om die voertuig weer te laat toets nie.
“Enigiets kon met die voertuig in die vorige maande sedert die vorige toets gebeur het,” het Bekker verduidelik.
Andries Joubert, voormalige verkoopsman en nou bestuurder by die motorhandelaar, het getuig dat Smit ’n Nissan Pathfinder wou hê.
“Ons het nie een gehad nie en ek het rondgebel. Ek het een by ’n handelaar naby opgespoor,” het hy gesê.
Die twee mans het gaan kyk en Smit het ’n deposito betaal.
“Mnr. Smit het binne en buite na die voertuig gekyk. Hy het dit twee keer toetsbestuur,” het Joubert gesê. Hy het nie geweet die voertuig is voorheen gesteel nie.
Adv. Johann Viljoen, vir Smit, het aan Joubert gesê die voertuig was reeds beskadig toe Smit dit gekoop het.
Joubert het erken dat dit moontlik was.
Die saak is uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld