Hof sal moet sê oor bande
2012-01-25 07:06
Kaapstad– Die departement van omgewingsake moet Vrydag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg sy besluit verdedig om ’n multimiljoenrand-bandeherwinningsplan aan ’n betreklik onbekende organisasie, Redisa, toe te ken.
Edna Molewa, minister van omgewingsake, het verlede week aangekondig Redisa sal van 1Februarie landwyd eksklusief die verwydering en herwinning van afvalbande behartig.
Dié organisasie sal gefinansier word deur ’n nuwe heffing van R2,30/kg wat van 1 Februarie gehef sal word op alle nuwe bande wat in Suid-Afrika verkoop word. Die Burger verstaan Redisa kan tot R630 miljoen per jaar invorder.
Die bandebedryf het gesê hy is nie genader om aan die ontwikkeling van die Redisa-plan deel te neem nie. Dié bedryf werk reeds die afgelope 12 jaar aan sy eie herwinningsplan, die SATRP-plan.
Dr. Etienne Human, hoof van die South African Tyre Recycling Process Company (SATRP), sê in hofstukke wat vandeesweek ingedien is, dié plan het die bedryf tot dusver tot R8 miljoen gekos, met die goedkeuring van die Mededingingskommissie en die nasionale tesourie.
Die bandebedryf het die SATRP op versoek van die regering gestig om ’n bandherwinningsprojek te ontwikkel en te bestuur.
Die Redisa-plan is ontwikkel en word bestuur deur Hermann Erdmann, wat in die bedryf wyd gekritiseer word. Hy was tot middel verlede jaar ’n direksielid van die kleinhandelvoertuigbedryfsvereniging (RMI).
Die Burger het van drie betroubare bronne wat anoniem wil bly, verneem die RMI het Erdmann verlede jaar ondersoek nadat R650 000 vermis geraak het.
Erdmann het uit die RMI bedank nadat ’n mosie van wantroue in hom aanvaar is.
Riaan van Niekerk, verteenwoordiger van Pirelli in Suid-Afrika, het gesê Erdmann skuld ook geld aan dié maatskappy en daar was ’n hofsaak teen Erdmann om die geld uit hom te kry.
Erdmann het by navraag gesê die Redisa-plan is in Julie 2011 in die Staatskoerant gepubliseer.
Human het gesê dis bog. “Al wat in die Staatskoerant gepubliseer is, was dat die departement beplan om die Redisa-plan te publiseer. Dit het nie gebeur nie.”
Volgens Human steun reeds tot 85% van die rolspelers in die bandebedryf die SATRP-plan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger