Hibried van Toyota by Le Mans
2012-02-02 14:52
Toyota is terug in Le Mans en dié keer met ’n hibriedrenmotor, die eerste keer dat ’n renspan amptelik van dié tegnologie in ’n renreeks gebruik maak.
Die besonderhede is gister bekend gemaak van dié vervaardiger se deelname aan die FIA Wêrelduithourenkampioenskap en dit sluit sy voorneme in om twee motors in spesifieke renne te gebruik.
Die nuwe span maak sy renbuiging op 5 Mei in die Spa-Francorchamps-uithouren oor ses uur.
Dit is die tweede ronde van die FIA se Wêrelduithourenkampioenskap. Die Toyota-renafdeling is van plan om twee TS030-hibriedmotors in die daaropvolgende Le Mans-uithouren oor 24 uur (16 en 17 Junie) in te skryf.
Sy deelname aan nog rondes van die reeks moet nog bevestig word.
Die jaers vir die een motor – Alex Wurz, Nicolas Lapierre en Kazuki Nakajima – is reeds bevestig, terwyl onderhandelinge nog aan die gang is om die bemanning vir die ander motor te finaliseer.
Die TS030-hibriedmotor is Toyota se opvolger van sy ikoniese TS010- en TS020-motors wat in die jare 90 met podiumsukses aan die Le Mans deelgeneem het. TS is ’n afkorting vir Toyota Sport.
Iets waarvan kennis geneem moet word is dat Toyota die eerste vervaardiger is wat sy deelname aan die Wêreld-uithourenkampioenskap met ’n hibriedstelsel aangekondig het, wat dié vervaardiger se baanbrekerswerk met hierdie tegnologie – wat tot verkope van meer as 3,5 miljoen Toyota-hibriedmotors wêreldwyd gelei het – beklemtoon.
Die kragbron van die THS-R (Toyota Hybrid System – Racing) is ontwerp om die hoogste verrigting te gee en pronk met ’n splinternuwe, petrolaangedrewe V8-vergasserenjin van 3,4 liter en ’n hibriedstelsel. Die span sal die TS030-hibriedmotor se eerste toets gebruik om sy moontlikhede binne die bestaande reëls te bepaal. Dit behels ’n voorgemonteerde motor wat deur Aisin AW vervaardig word en ’n agtergemonteerde motor wat deur die amptelike spanvennoot Denso gemaak word.
Die reëls beperk hibriedstelsels om net tot 500?kJ tussen die remsones te herwin, terwyl dit aan net twee wiele ontplooi mag word.
’n Splinternuwe LMP1-koolstofvesel-onderstel is by Toyota Motorsport GmbH (TMG) ontwikkel en gebou.
Die TS030-hibriedmotor het ’n hele paar honderd kilometers gedurende ’n eksklusiewe toetssessie op die Franse Paul Ricard-renbaan, wat ook naglopies in stikdonkerte ingesluit het, afgelê en sy betroubaarheid en verrigting vir hierdie vroeë fase in die motor se toetsprogram getoon.
* Al het algehele oorwinnings om as kampioene gekroon te word Toyota in Formule Een en Le Mans ontwyk, was daar darem ’n klompie betreklik goeie resultate ook.
Toyota het die eerste keer in 1983 aan die FIA se Wêreld-uithourenkampioenskap begin deelneem. Dit was die begin van ’n lang deelname aan uithourenne wat verskeie Le Mans-uithourenne oor 24?uur ingesluit het.
Toyota-motors het in 13 Le Mans-uithourenne oor 24 uur gejaag en altesame 36 voertuie het deelgeneem.
Toyota was drie keer op die podium – telkens as die naaswenner.
Toyota was altesame nege keer onder die voorste ses, wat sy drie podiumposisies insluit.
* TMG in Keulen, Duitsland, is die vervaardiger se voormalige Wêreldtydren- en Formule Een-fabriekspanne se tuiste en is nou vir die Le Mans-aanslag ingerig.
– Volg Nuus24 op Twitter.