Groen nie altyd alles nie
2009-11-19 13:10
Johannesburg - Is die volk gereed vir hibriedvoertuie?
Hmm... ek twyfel, want die vrae oor Toyota se Prius vertel my dat baie mense nog nie ’n idee het waaroor dit gaan nie.
Toegegee, dit is ’n relatiewe nuwe konsep as ek nou so vaag soos jou standaardpolitikus mag wees.
Ons het dalk nog ’n entjie verder om te loop as byvoorbeeld Europa om die konsep te verstaan en die voordele wat daarmee saamgaan.
Interessant genoeg is dit nou al die tweede geslag Prius en daar is die laaste jaar of twee verskriklik baie oor hibriedvoertuie geskryf.
Mense wil weet of die kar ook ’n gewone enjin het en tweedens wil diegene wat dit wel verstaan, weet of die voertuig werklik so ekonomies is.
Albei is geldige vrae, maar eersgenoemde kan jou soms lam in die knieë maak.
Enjin, verrigting: 4 uit 5
Die keer is daar ’n 1800-petrolenjin gekoppel aan die jongste weergawe van Toyota se Synergy Drive-stelsel waar ’n battery, alternator en elektriese motor alternatiewe aandrywing bied.
Die petrolenjin ontwikkel 73 kW teen 4 000 r/min en wringkrag van 142 Nm teen 2 180 r/min.
Die elektriese motor se maksimumkrag is van 60 kW en maksimum-wringkrag is 207 Nm.
Die petrolenjin laai die battery asook die energie wat tydens die remproses gegenereer word, vir die batterygebruik.
Wanneer jy stop, skakel die enjin af en met die wegtrek het jy die elektriese motor om jou uit die blokke te kry.
Afhangende van hoe vol die battery gelaai is, kan jy wegtrek, geleidelik versnel (te vinnig en die petrol-enjin skop in) en teen stadsnelhede in die verkeer aankruie met net die elektriese motor wat die aandrywing doen.
Van buite klink dit, soos my kinders sê, wicked omdat jy niks hoor nie.
En dit is waaroor hibriedvoertuie gaan.
Die petrolenjin werk nie heeltyd nie en dit is waar die besparing lê.
As jy baie haastig is en met elke wegtrekslag die lepel inlê, gaan die besparings uit die aard van die saak baie minder wees want die petrolenjin gaan meer en harder werk.
Daar is ’n CVT-ratkas wat natuurlik maar aaklig klink, maar die inskop van die petrolenjin gebeur byna ongesiens en gevoelloos.
Die Prius se aanboordrekenaar het sy beste verbruik deur ’n vorige bestuurder gestoor en dit was 4,7 liter/100 km.
In die toetstydperk wat ek die voertuig bestuur het, het my gemiddeld op 6,9 liter/100 km te staan gekom wat soortgelyk is aan wat ’n goeie dieselenjin kan bied.
Die ander voordeel van die Prius is natuurlik sy lae uitlaatgassyfer wat in die dae van rillerstories oor aardverwarming en lugbesoedeling seker nie meer geïgnoreer kan word nie.
Rit, hantering: 4 uit 5
Die Prius se ritgehalte is enige tyd net so goed (of gemiddeld) as ’n Corolla s’n en sy hantering is ook soortgelyk.
Die Prius maak natuurlik gebruik van die Toyota Verso-onderstel.
Die stuur is soms (teen lae snelhede) effe vaag en te lig, maar andersins heel bevredigend.
Daar is min windlawaai en pad- en bandgeraas is die minimum.
Binne: 4 uit 5
Nou kyk die Prius lyk soos geen ander Toyota aan die binnekant nie.
Dit is asof Toyota se kreatiewe span almal net aan die Prius gewerk het, want alle denkbare nuwighede en selfs byna uitspattighede word in die voertuig aangetref.
Dit is wonderlik.
Die instrumentasie is alles elektronies en in die middel van die voorpaneel saamgegroepeer.
Daar is driedimensionele grafika wat skematiese voorstellings bied van hoe die batterystelsel werk met wie vir wie van krag voorsien, ens.
Daar is selfs inligting wat teen die voorruit met ’n kamera geprojekteer word.
Ek hou ook van die middelste hangpaneel wat baie plat gemonteer is, uitstekend vertoon en heel funksioneel is.
Die stuurwiel het self ’n swetterjoel knoppies op.
Wat wel negatief is, is die harde plastieke wat beslis nie so duursaam soos dié in ’n Corolla lyk nie.
Druk jou been teen die middelpaneel, is daar ook ’n gekraak en ’n gekners van plastiek.
Ruimte is meer as genoeg en die feit dat daar ’n voetnoodrem is, is verstommend want dit voel half argaïes in ’n byderwetse voertuig soos die Prius.
Beenruinte vir die agterste passasiers is meer as genoeg en die laairuim sal die gemiddelde gesin se bagasie met gemak kan insluk.
Die Prius het al die luukses en die toetsmodel was nie die heel luukse een wat satellietnavigasie, leersitplekke en hier en
daar nog iets ekstra gehad het nie.
Buite: 2,5 uit 5
Hier is dalk die grootste kritiek op die Prius.
’n Mens het begrip daarvoor dat die bakwerk se vorm die een is wat volgens Toyota die beste deur die wind klief en dat goed soos die allooiwiele se ontwerp ook ’n bydra daartoe maak.
Maar genugtig – die allooiwiele is waarskynlik die lelikste wat ek nog ooit op enige kar gesien het.
Die bakwerk is ’n tipiese wigvorm, waterdruppel, setpilvorm of wat jy dit ook al wil noem.
Ek dink die Prius lyk skaflik van voor af en self die kantprofiel is nie te onaardig nie.
Daardie blink lighulse agter is egter ’n bietjie moeilik om te verteer...
Prysvergelyking: 3 uit 5
Die model soos getoets, die Advanced, kos R326 200 en die luukser Exclusive, R370 700.
Ander opsies is die Volkswagen Passat CC 2,0 TDI DSG (R348 745), Volvo V50 2,0 D Powershift (R314 300), Nissan Qashqai 2,0 DCI Acenta (R310 000) of die Renault Grand Scenic 1,9 dCi Dynamique (R290 000).
Bevinding: 4 uit 5
Natuurlik beïndruk die Prius jou en dit is glad nie ’n slegte ryding nie.
Inteendeel.
Daar is beslis meriete met hibriede, maar die Prius se voorkoms en prys sal my eerder na iets anders laat kyk.