Gebruikte motors vinnig duurder
2010-07-06 10:08
Bloemfontein - Die inflasie op die pryse van gebruikte voertuie styg steeds, terwyl dié van splinternuwe voertuie daal ten spyte van vervaardigers se prysverhogings en groeiende verkope.
Die nuutste voertuigprysindeks van TransUnion Auto Information Solutions toon dat prysinflasie op gebruikte voertuie tot 5,6% in die tweede kwartaal vanjaar gestyg het teenoor 4,5% in die eerste kwartaal.
“Die dryfveer agter die styging van pryse vir tweedehandse voertuie is die relatief sterk vraag daarna – dis steeds stewiger as die vraag na nuwes,” sê Mike von Höne, uitvoerende hoof van TransUnion.
Gebruikte voertuie is baie gewild, maar die skaal begin ál meer in die rigting van nuwe voertuie swaai.
Volgens TransUnion se syfers het die verhouding van finansieringsooreenkomste tussen gebruikte en nuwe voertuie gedaal tot 1,73 gebruikte voertuie per een nuwe voertuig. Verlede jaar was dit 2,4 gebruikte voertuie teenoor een nuwe.
“Hoewel dit gedaal het, is die verhouding steeds ten gunste van gebruikte voertuie,” sê Von Höne. Syfers wat TransUnion van handelaars ontvang, toon ook dat hulle meer tweedehandse voorraad begin aanhou.
Die verkoop van nuwe voertuie styg egter namate die ekonomie herstel. Syfers van die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) toon dat totale verkope in Junie met 20,7% gestyg het teenoor ’n jaar gelede hoewel dit van ’n baie lae basis af is.
Volgens Naamsa word die verkope aangehelp deur laer rentekoerse, stabiele nuwevoertuigpryse en die toename in goedgekeurde motorlenings.
Die koers van prysinflasie op nuwe motors het in die tweede kwartaal tot 3,9% teenoor 7,4% in die eerste kwartaal gedaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad