Focus anders ontwerp vir elke teikenland
2011-11-24 10:13
Kaapstad – Politiek korrektes sal dalk hul neus optrek, maar in die wetenskap word gepraat van harde feite: Oor die wêreld heen verskil nie net die velkleur en voorkoms van mense nie, maar ook die liggaamsgrootte.
Ford het pas die sluier gelig oor die navorsingsresultate wat hy ingespan het toe hy sy nuwe Focus, wat pas in Suid-Afrika bekend gestel is, in Europa ontwerp het.
Volgens Ford se witjasse het hulle noukeurige data verkry oor mense se lengte, omtrek en reikafstand om te sien hoe dit van land tot land en van vasteland tot vasteland verskil.
Die resultaat is nogal verstommend. Chinese, Japanners en Indiërs is gemiddeld 10 cm korter as hul eweknieë van Duitsland, Amerika en Australië.
Dit is nie net die algehele lengte wat tussen die groepe verskil nie; ook die armlengte en die bolyf-omtrek verskil van groep tot groep.
Vir motorontwerpers wat ’n ryding vir die wêreldmark vervaardig – die Focus moet in Suid-Afrika, Japan, China, Duitsland én Amerika verkoop kan word – moet jy dus óf jou voertuig mark-spesifiek bou óf ’n goeie gemiddelde vind wat soveel moontlik tevrede stel.
Ford het in sy nuwe Focus uiteindelik op iets van elk besluit.
So is die luikrug-Focus, wat vir die Indiese en die Chinese mark bestem is, só ontwerp dat sy agterklap nie te hoog oopwip nie; anders kan die korter Chinese dit nie maklik bykom wanneer hulle dit moet toemaak nie.
In die binneruim-spasie is die een-grootte-pas-almal-benadering gevolg. Die motor is ruim genoeg vir ’n 1,9 m lange Duitse man omdat hy die sitplek ver genoeg na agter kan terugstoot vir sy lang bene, maar ’n Chinees kan die sitplek tot amper onder die stuurwiel inskuif om maklik by die pedale te kan kom.
Dié “buigsaamheid” van die binneruim sluit die stuurwiel in. Dit kan hoog en laag en op en af gekantel word, terwyl dit ook vir verskillende armlengtes verstelbaar is.
Volgens Ford het hy oor die wêreld heen inligting oor bevolkingsgroepe se gemiddelde grootte gekry, maar dit was veral ’n onlangse Duitse navorsingstudie wat met puik inligting gehelp het. Die inligting was afkomstig van driedimensionele laserskanderings en het mense se lengte, breedte, beenlengte en omtrek by die heupe getoon.
Behalwe dat die wêreld se bevolkingsgroepe verskil, is vasgestel dat merkbare verskille tussen Eerste- en Derdewêreldse lande bestaan.
Die mense van laasgenoemde is gewoonlik kleiner, korter en ligter as hul Westerse eweknieë.
Daarvolgens sê Ford dat Afrika-markte in die toekoms al hoe groter kopers sal bied namate dié bevolkings meer geïndustrialiseerd raak.
Nog ’n waarneming is dat die mens langer, groter en swaarder word vergeleke met data van 150 jaar gelede. Beter gesondheidstoestande, ander eetgewoontes en mediese hulp dra onder meer daartoe by.
Laastens is daar die onderskeie markte se spesifieke voorkeure. In Asië wil insittendes graag ’n tee-fles in die deurholte kan inpas, terwyl Europeërs ’n 1,5 liter-koeldrankbottel daar wil sit. Vir elke mark word die deur se binnepaneel dus uniek ontwerp.
Die dae van ’n swart motor vir elkeen is dus bes moontlik verby.

Vir volmaakte Focus … Die Chinese egpaar (heel links) is gemiddeld 1,49 m en 1,79 m lank; die Duitse egpaar (middel) 1,53 m en 1,93 m; en die Amerikaanse egpaar 1,5 m en 1,9 m.
- Die Burger